Eskom-verhuringsplan kan ekstra 1 800 MW opwek

(Argieffoto: Michael Fortsch/Unsplash)

Eskom het 18 maatskappye gekies uit aanbiedinge wat ontvang is vir die huur van grond vir hernubare energieprojekte by Eskom se kragsentrales in Mpumalanga, maar geen ooreenkomste is nog aangegaan nie.

Die projek beloof egter om die sukkelende kragnetwerk ʼn hupstoot te gee en verligting te bring vir Suid-Afrikaners wat vandeesweek opnuut aan beurtkrag onderwerp word. Fase 2-beurtkrag geld in hierdie stadium nog tot Sondag.

Volgens Eskom moet die betrokke maatskappye eers klaring ingevolge ʼn omgewingsimpakassessering kry en hul name kan dus nie bekend gemaak word voor die kontrakte afgehandel is nie. Eskom sê hy sal ʼn aankondiging oor die suksesvolle tenders doen sodra alle prosesse afgehandel is.

Die huidige tenders is vir sowat 4 000 ha uit ʼn algehele 36 000 ha wat vir die projek beskikbaar gestel word. Dit sal lei tot ʼn bykomende 1 800 MW aan opwekkingskapasiteit sodra dit aan die netwerk gekoppel word.

“Ons hoop om die huurooreenkomste teen Augustus met die suksesvolle bieërs aan te gaan,” sê André de Ruyter, hoof van Eskom.

“Dit wys wat gedoen kan word met verminderde omslagtigheid en die uitwerking van die vrystelling van die energiesektor. Die bykomende kapasiteit sal by die netwerk gevoeg word sonder dat dit die belastingbetalers enigsins meer kos,” sê hy.

Die huurooreenkomste word op ʼn kommersiële grondslag gedoen, met Eskom wat ʼn inkomste verdien uit die verhuring van die grond. Die maatskappye wat die grond huur, sal weer kragverkoopooreenkomste met derde partye aangaan.

Regulatoriese veranderings, wat bepaal dat die drempel vir selfopwekking – sonder ʼn lisensie – van 1 MW tot 100 MW verhoog word, het die projek moontlik gemaak. Eskom het in Desember verlede jaar aangekondig dat die projek van stapel gestuur word en het in April vanjaar gevra vir voorstelle om die hernubare energieprojekte te skep.

De Ruyter het vroeër gesê Mpumalanga moet die fokuspunt van belegging in hernubare energie wees en dat die provinsie se goed gevestigde transmissienetwerk hiervoor gebruik moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

So, niemand kag op sy eie grond op eie stoom, krag opwek en aan Eskom verkoop nie. ‘n Soort feodale stelsel van oudsher soos die plan ook is met plase in die toekoms. Jy huur jou grond van die staat en plant en boer in opdrag en kry ‘n loon ooreenkomstig jou produksie. Is dit hoekom ons Kuba so skuld? Vir sy bloudruk vir agteruitboer?

Nico ·

Eskom wat eens ‘n magtige besigheid was is nou in flarde. Al goed opgeleide en geskoolde arbeid is weg gejaag nou is Eskom een gawe gemors.

Hennie ·

Nou hoekom sal iemand grond huur by EKSDOM om sonkrag op te wek? Dis om jou besigheid se zip oop te trek sodat die ANC goedgunstiglik jou goeter in ‘n vice kan vas klamp!

Swerwer ·

Nou waarom kan die Sonplase wat reeds opgerig is in die Noordkaap nie in die grid ingesit word nie, omdat die nie aan Eskom behoort nie of omdat Eskom ontevrede is omdat hul voorgespring is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.