Eskom verklaar dispuut met vakbonde

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Eskom het Woensdag ʼn dispuut verklaar met die vakbonde NUM, Numsa en Solidariteit.

Dié verklaring spruit uit ʼn voorwaarde wat NUM en Numsa as deel van loononderhandelinge voorgestel het.

Al drie vakbonde het verlede week tydens ʼn vergadering wat onder die beskerming van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) plaasgevind het in beginsel ingestem tot Eskom se driejaar-loonaanbod.

Dié aanbod sluit ʼn salarisaanpassing van 7,5% vir 2018-’19 en 7% vir 2019-’20 en 7% vir 2020-’21, asook ʼn behuisingstoelaag wat strook met die VPI en ʼn eenmalige kontantbetaling van R10 000 in.

Eskom het in ʼn verklaring gesê dat NUM en Numsa toe ʼn voorwaarde voorgestel het dat werknemers wat in die onbeskermde Julie/Augustus-staking deelgeneem het nié gedissiplineer moet word nie.

“Eskom kon nie instem tot hierdie voorwaarde nie,” lui die verklaring.

Eskom meen NUM en Numsa het in Junie die Wet op Arbeidsverhoudinge geïgnoreer en ʼn onbeskermde staking uitgevoer.

“Dié staking het verskeie strafregtelike dade asook beweerde dade van sabotasie en vernietiging van eiendom ingesluit. Die staking het ook daartoe gelei dat die kragnetwerk beperk was en dat daar drie dae beurtkrag toegepas moes word wat die ekonomie negatief beïnvloed het.”

Ná ingryping deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het die partye tot ʼn vergelyk gekom dat die vakbonde nie verder onbeskermd sal staak nie en dat die maatskappy nie werknemers wat in die onwettige staking van Junie deelgeneem het, sal dissiplineer nie.

Volgens Eskom het vakbonde in Julie, ná nog ʼn ronde onderhandelings, op ʼn verdere onbeskermde staking gegaan.

Maroela Media het vroeër berig Eskom het Maandag onderneem om dissiplinêre stappe te doen teen die werknemers wat die onbeskermde staking uitgevoer en skade aan dié kragreus se infrastruktuur aangerig het.

Eskom meen die vakbonde het hul eenmalige reg om beskerm te word teen dissiplinêre aksie verbeur toe hulle tot die tweede ronde van onwettige staking, ondanks onder meer ʼn staande hofinterdik en die arbeidswet, betree het.

Volgens Eskom sal die kragnetwerk altesaam 30 dae neem om te herstel van die nadraai van die aksie.

“Vandag [Woensdag] het die KVBA die proses afgesluit ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge. NUM en Numsa het geëis dat werknemers nie afgedank sal word ongeag die uitkoms van die dissiplinêre proses nie.”

Elsie Pule, die hoof van Eskom se menslikehulpbronne-afdeling, het egter gesê Eskom behou die reg voor om in ooreenstemming met die maatskappy se dissiplinêre proses op te tree.

Irvin Jim, NUM se sekretaris, het gesê Eskom se besluit om ʼn dispuut te verklaar is ʼn “demonstrasie van ondergeskikte, indien nie onnosele, menslikehulpbronne-leierskap” asook ʼn “roekelose en uitlokkende besluit van die bestuur wat weier om te leer”.

Jim meen Eskom se posisie was deurentyd uitlokkend en dat hy die vakbonde voortdurend ondermyn het.

Die dispuut is na die KVBA verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

karen ·

trek die beurtkrag schedules opnuut nader…… en wees voorbereid

koos1 ·

Mr Jim. I typing this in English, with the hope that you will get to read this.
Sins when is your union there to protect workers that have broken the law, the same law that allow you to bargain with employers.
The law must take its course and if the workers are innocent, the same law prescript exactly what their rights is, but what I see here is that your union is now the judge and jury. Sir, your are doing your union harm with statements as you made. Also bear in mind that the employer also have rights, as they now have exercise, and it is not your job to criticises them, they are also protected by the same law in which your union operates.

gatvol ·

Jim se astrante kamerade moet summier krimineel vervolg word weens hul walglike dade.

LouE ·

Die werkers het die reg om te staak, maar nie om eiendom te beskadig nie. In die verband is Eskom reg. Ek hoop hulle hou voet by stuk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.