Eskom verwag minder beurtkrag dié winter

Komati-kragsentrale (Foto: Eskom)

Eskom sê hy verwag om heelwat minder beurtkrag dié winter in te stel, in vergelyking met verlede jaar.

Dit, aldus die kragvoorsiener, is danksy die operasionele herstelplan en Eskom se belegging in beplande instandhouding tydens die somermaande.

Eskom het Vrydagmiddag gesê beurtkrag behoort tot fase 2 beperk te word, met ʼn vermindering in onbeplande kragonderbrekings. Dié sal glo beperk word tot ʼn minimum van tussen 14 000 MW en 15 500 MW, met ʼn maksimum van 17 000 MW wat in uitskietergevalle nie beskikbaar sal wees nie. Indien laasgenoemde wel die geval is, sal fase 5-beurtkrag ingestel word.

“Hierdie voorspelling is heelwat beter as die minimum onbeplande onderbrekings (tussen 15 000 MW en 16 500 MW) wat vir verlede winter voorspel is.” Toe het Suid-Afrika 153 dae van beurtkrag, wat tussen fases 3, 5 en 6 gewissel het, ervaar.

“In die daaropvolgende somermaande kon Eskom darem die onbeplande onderbrekings tot tussen 14 000 MW en 15 500 MW beperk, met die gevolg dat beurtkrag tussen fases 2 en 4 geïmplementeer is. Ons hoop om dié tendens hierdie winter voort te sit en, indien nodig, hoogstens fase 2 in te stel.”

Volgens Eskom het die operasionele herstelplan reeds ʼn aantal prestasies tot gevolg gehad, insluitend ʼn 9%-afname in onbeplande onderbrekings tussen Maart verlede jaar en April vanjaar. Drie van Kusile se eenhede is ook weer in diens geneem nadat hulle in Oktober 2022 uit die stelsel gehaal is en Kusile se eenheid vyf is ook vir die eerste keer by die stelsel gevoeg. Dit, sê Eskom, het tussen September en Desember 3 200 MW se bykomende krag tot die stelsel gevoeg.

Eskom het die afgelope weke onder hewige kritiek deurgeloop dat hulle staatshulpbronne gebruik om bykomende diesel aan te koop sodat beurtkrag in die weke voor die verkiesing vermy kan word. Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, het dié bewerings egter tydens ʼn mediakonferensie hierdie week ontken en gesê verminderde beurtkrag is die direkte gevolg van vordering wat Eskom maak met die oplos van die kragprobleem.

Eskom sal ook tydens die winter, wanneer die vraag na krag onvermydelik toeneem, van sy oopsiklus-gasturbines gebruik maak. Dit is juis dié turbines wat diesel vreet. “Die stelseloperateur is daartoe verbind om die gasturbines vir die kortste moontlike tyd te gebruik, veral soos ons steenkoolaangedrewe eenhede meer betroubaar word,” het Eskom Vrydag gesê. “In vergelyking met April verlede jaar, het Eskom hierdie maand 50% minder aan diesel bestee.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.