Eskom verwag swaarkry tot 2023

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA

Eskom sê sy operasionele en finansiële posisie het in die ses maande tot einde September verder versleg en voorspel die situasie sal na verwagting selfs verder agteruitgaan voor dit eers oor vyf jaar begin regkom.

Phakamani Hadebe, Eskom se groep- uitvoerende hoof, het met die bekendmaking van die kragvoorsiener se tussentydse resultate vir die oorsigtydperk gesê inkomste het effens van R95,5 miljard tot R98,1 miljard toegeneem, hoofsaaklik vanweë die 5,2%-tariefverhoging wat in April vanjaar in werking getree het.

Maar Eskom se netto wins het met 89% gedaal – van R6,3 miljard verlede jaar tot R671 miljoen.

“Daar sal druk wees op kort tot mediumtermyn terwyl ons na finansiële en operasionele volhoubaarheid oorskakel,” het Hadebe gesê. “Dié verandering sal vasbeslote, sterk en beslissende leierskap verg. Eskom het ʼn ambisieuse omkeerplan – grotendeels in sy eie beheer – opgestel om sy finansiële toestand teen 2023 te verbeter.”

Van die probleme waarmee die kragreus te make het, is lae tariewe, beperkte groei in verkope, toenemende koste en verminderde opwekkingsvermoë. Ook is die steenkoolvoorraad laag en hoop munisipaliteite se elektrisiteitskuld op.

“Ondanks dié uitdagings is Eskom se raad en bestuurspan verbind tot vyf sleutelprioriteite vir toekomsgroei,” sê Hadebe.

“Dit sluit die verbetering van swak bestuur, verbeterde likiditeit, finansiële volhoubaarheid en ʼn plan om opwekkingsvermoë reg te ruk in.”

Eskom sê die nuwe vergoedingspakkette waarop in die bedingingsforum ooreengekom is, het nog druk op die kragvoorsiener se uitgawes geplaas: Salarisse kos hom nou R16,9 miljard, 12% meer as die R15,1 miljard van verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anni ·

En ek verwag ‘n totale en rampspoedige ineenstorting van Eskom lank voor dan.

tamboti ·

Ok jul kom agter iets is nie baie lekker nie, maar julle het nie die vaagste benul wat om daarvan te maak nie, julle beplan en beplan en beplan……… en dan leen jul maar net meer. Vat vyf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.