Eskom verwelkom McKinsey se verskoning

Kevin Sneader, wêreldwye besturende vennoot van die internasionale konsultantefirma McKinsey. Foto: www.mckinsey.com

Eskom het Maandag die verskoning van Kevin Sneader, wêreldwye besturende vennoot van die internasionale konsultantefirma McKinsey, verwelkom.

Sneader het tydens ʼn toespraak by die Gordon Institute of Business Science om verskoning gevra dat die maatskappy Eskom te veel laat betaal het in ʼn omstrede ooreenkoms van byna R1 miljard wat met die staatskapingskandaal verbind word.

Maroela Media het vroeër berig Sneader het erken McKinsey het Eskom te veel vir sy dienste gevra en die sage te lank laat uitrek. “Die fooi was daarop gerig om ons belegging terug te kry eerder as wat dit gestrook het met Eskom se situasie. In daardie konteks was die fooi te hoog. Dit moes nie gebeur het nie.”

Eskom het in reaksie hierop gesê hy is in die proses om sy bestuursbeheerstelsels te versterk. “Die oënskynlike mislukking van ons eie bestuursprosesse tesame met onreëlmatighede en wanbestuur van verkrygingsprosesse het daartoe gelei dat mense vertroue in Eskom, sy prosesse en sy mense verloor het. Ons het baie om hieruit te leer soos wat ons ondersoek wat verkeerd gegaan het en as deel van die terugkry-proses,” het Eskom in ʼn verklaring gesê.

“Terwyl ons steeds in die proses is om ons bestuurskontrolestelsels te versterk, sal ons voortgaan om ons interne kontrole-omgewing te hersien om te verseker dat ons kernkontrole nie net behoorlik ontwerp is nie, maar ook doeltreffend is.”

Eskom het gesê die raad en die bestuur verwelkom McKinsey se instemming om die geld aan die kragvoorsiener terug te betaal. Volgens Eskom is hy vasbeslote om beslissend op te tree rakende onbehoorlike en onreëlmatige kontrakte.

“In ooreenstemming hiermee sal ons poog om die res van die betaling vanaf Trillian, wat nie deel van die skikkingsooreenkoms was nie, terug te kry deur ʼn regsproses saam met die nasionale direktoraat van openbare vervolging (NDOV).”

Phakamani Hadebe, Eskom se groep- uitvoerende hoof, het bevestig dat McKinsey die R902 miljoen aan die kragvoorsiener terugbetaal het.

“Ons wil graag die batebeslagleggingseenheid, die NDOV en McKinsey bedank vir hul samewerking en bevestig dat ons die betaling van R902 miljoen ontvang het. Hierdie betaling is reeds ʼn groot stap in ons pogings om fondse terug te kry wat verlore gegaan het en die vertroue van mense terug te wen,” het Hadebe gesê.

“Ons is toegewyd om weg te doen met finansiële wanbestuur en misdrywe en sal voortgaan om saam met die ses regulatoriese liggame en wetstoepassingsagentskappe te werk om korrupsie aan te spreek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

Ek wonder of Eskom ook aan die verbruikers verskoning gaan vra dat hulle ons te veel laat betaal het en dit dan dien ooreenkomstig gaan verminder.

Elizabeth ·

Voorwaar goeie nuus om ‘n slag te hoor dat “verlore” geld werklik teruggekry word. Saam met Danie wonder ek ook of ons as voosverbruikte verbruikers ook iets gaan terugkry …

marous ·

Verwelkom die verskoning ? Waarom eis Eskom nie dat hul koppe moet rol en die geld met rente terug betaal moet word nie ? Want hulle is self tot in die kern verrot !

John ·

Watter twak. Guptas gee 1 miljard terug en se solly en alles is ooky… of Zuma of… of… En die belastingbetaler betaal sy sorry af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.