Eskom vra Wet van Transvaal vir munisipale skuld

(Foto: pixabay)

Dit gaan Eskom nie aan hoe munisipaliteite hul skuldenaars kry om skuld te vereffen nie, maar munisipaliteite moet nou vir Eskom betaal wat hulle die kragvoorsiener skuld. Só het die voorsitter van die Eskom-raad, Jabu Mabuza, Dinsdagoggend in die parlement aan munisipale leiers van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) gesê.

“In 2013 was munisipale skuld aan Eskom R1 miljard. Nou is dit R25 miljard, waarvan twee derdes deur net tien munisipaliteite geskuld word. Binne vier jaar het betaling van elektrisiteit deur munisipaliteite afgeneem van 93% tot 78%. Dit is dus mense wat kan betaal en altyd betaal het, maar nou opgehou het met betaal,” het Mabuza voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê.

Hy het ná ʼn ellelange voorlegging oor die omvang van munisipale skuld deur amptenare van die departement van samewerkende regering gesê: “Hou op sê hoe ons in hierdie situasie beland het. Ons moet bepaal hoe kom ons úit hierdie situasie.”

Mabuza het aanhou sê dat wanbetalers se krag afgesny moet word. Hy het politieke ingryping daarvoor geblameer dat dit nog nie gebeur nie en uitgewys daar is geen aanmoediging om te betaal as diegene wat nie betaal nie, skotvry daarvan afkom.

ANC-LP’s was baie onwillig om oor die afsny van elektrisiteit deur munisipaliteite te praat. Mervyn Dirks, ANC-LP, het gevra of Eskom die elektrisiteit van Soweto (met reusagtige uitstaande skuld, wat sy elektrisiteit regstreeks van Eskom kry) se krag gaan afsny met dieselfde beslistheid wat die kragvoorsiener van stadsrade verlang.

Ander ANC-LP’s het daarop gewys dat baie huishoudings aan onmenslike omstandighede blootgestel sal word as hul krag afgesny word, terwyl daar ook uit ANC-geledere gevra is dat munisipaliteite, Eskom en die interministeriële taakspan oor die kwessie skik.

Die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, was egter nogmaals afwesig om rekenskap aan Skoor te verskaf – hierdie keer weens familieredes.

Alf Lees, DA-LP, het gesê die interministeriële taakspan het nou al 40 keer vergader en steeds neem wanbetaling toe. Hy het daarop gewys dat nie ʼn enkele munisipaliteit in die Wes-Kaap agterstallig is met die betaling van munisipale rekeninge aan Eskom nie, en gesê al wat nodig is om die probleem op te los is politieke wil en dissipline.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Freddie ·

Ek is ‘n beesboer. Ek betaal Eskom direk. Op my rekening staan dat indien ek ‘n maand se krag nie betaal nie word my krag onmiddelik afgesny. Indien my kragtoevoer na ‘n storm onderbreek is, vra Eskom my dadelik indien ek agterstallig met betaling is, en indien ek is kry ek geen aansluiting na die storm nie. Diskriminasie

Rossi ·

Die salarisrekening van Munisipaliteite is te groot daarom is daar nie geld oor aan die einde van n maand om enige ander rekeninge te betaal nie. Kantore vol mense maar nie een weet regtig wat sy werk is maar almal kry salaris aan die einde van die maand. Om dan nie eers te praat van die hoë salarisse wat sekere van die amptenare kry nie bv die Munisipale Bestuurders en ander hoofde. As hulle net hulle werk gedoen het kon ‘n mens die hoë salarisse motiveer maar van hulle sit heeldag in vergaderings en doen nooit waarvoor hulle aangestel is nie. Die ANC het in townships jare terug mense aangemoedig om nie te betaal nie so hoekom sal hulle nou begin betaal vir dienste?

Tershia ·

Ek betaal elke maand my rekening aan die munisipaliteit Hoekom moet ek dan gestraf word as hulle nie hulle verpligting aan Eskom nakom nie Mense is duisende rande verskuldig aan die munisipaliteit maar daar word niks aan gedoen nie Die munisipaliteite moet eers hulle wanbetalers se krag sny dan sal daar nie meer so baie krag verbruik word nie Kyk sommer ook na straatligte wat dag en nag brand My straatlig is al vyf jaar dood maar daar is nie geld om dit reg te maak nie Nee Eskom ek kom my verpligtinge na nie my skuld as die munisipaliteit dit ook nie doen nie

Geskok ·

Dis mos hul reg om nie te betaal as Soweto nie betaal nie! Hoekom kla ESKOM nou? Of is sekere gebruikers meer gelyk as ander?

John ·

Om die vorige bedeling tot ‘n val te bring is mense in Soweto, Alexandra en elders aangepor tot burgerlike opstandigheid. Huur en munisipale rekeninge moes glo nie betaal word nie om die regering ‘n les te leer. En nou is dis ANC aan die ontvangkant van sy slinkse planne.

Semanet ·

En ons almal weet al wat gedoen gaan word, is om ons wat elke maand ons krag ten duurste betaal net meer gaan moet betaal. Dit kom altyd net uit ons sakke ….

Peet ·

Lyk of almal die redes weet vir wanbetaling maar is nie verbaas dat ons ANC weier om eienaarskap van die 25 jarige suld te erken . Defnitief is daar ‘n “equality” gaping wat ook beteken party word onder dwang geplaas om betyds en gereeld te betaal. Dieselfde geld vir die onvermoë/onwilligheid om kragstelers vas te trek.Dit sou in elkgeval nadelige politieke gevolge hê. Ek sou dan my gemakstoel in die politiek verloor en die korrupsie trog sou leegloop.
Stry nou daaroor!

Johanna Botha ·

Nou eers …..wat makeer eskom ! Het soweto al begin betaal ?

K P ·

Deel van die mense wat kan betaal maar nie betaal is Soweto. Begin daar om die krag aftesit. Maar julle is waarskynlik te bang

Anton Coetzee ·

My buurman skuld Tshwane naby n R100 000.00 tov uitstaande munisipale heffings. Die huishoudings aan weerskante se maandelikse heffings word met oor R1000. 00 gelaai, met kort beskrywing “diverse heffing” op staat. Die buurman se riool loop al in die straat af omrede al die drein opening op sy erf geblok is agv die gebrek aan onderhoud. Nou ja Eskom stuur my n epos dan gee ek jou die adres, want Tshwane laat die buurmanne maar meer betaal. Die DA stel klaarblyklik nie belang om die problem op te los nie!

Bert ·

Die stadrade moet ontneem word van hul reg om krag te herverkoop, almal kry en betaal direk vir eskom.

Sarel ·

Grootbek …. wat van Staatsdepartemente?? Hoekom moet die verbruiker die prys betaal vir Munisipale Wanbestuur

Gert ·

Meeste van die sogenaamde top bestuur van die munisipaliteite is eerste wat se krag afgesny moet word want dit is daar waar die probleem is, die ander volg net hulle voorbeeld. Vat hulle sogenaamde byvoirdele weg en betaal eskom.

Hans ·

Soweto se skuld is al in die verlede afgeskryf-wil graag sien of die volle verskuldigde bedrag van elke huishouding verhaal gaan of gaan daar weer ‘n toegewing wees. Wonder maar net.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.