Eskom-vrystelling ‘oorwinning vir deursigtigheid’

(Argieffoto: GCIS)

Solidariteit het die minister van finansies se aankondiging verwelkom dat Eskom se vrystelling oor verslagdoening oor verkwiste uitgawes opgeskort is.

Nadat die vrystelling op 31 Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer is, het Solidariteit op 21 April in sy kommentaar sy teenkanting daarteen uitgespreek.

Volgens Solidariteit se reaksie op die aankondiging van die vrystellig sou die implikasie van hierdie vrystelling ʼn direkte invloed op fundamentele beginsels soos aanspreeklikheid en deursigtigheid hê en dit kon ʼn skuiwergat skep om veral misdade soos korrupsie te verdoesel.

Solidariteit was verder van mening dat dit ʼn ongebalanseerde en vals indruk van die stand van sake by Eskom sou skep wat beleggers sou afskrik en verdere negatiewe gevolge vir die ekonomie sou inhou.

“Die belangrikheid van openbare deelname moet nooit onderskat word nie. Die herroeping van hierdie vrystelling is ʼn sprekende voorbeeld daarvan dat druk op die regering die gewenste uitkoms kan oplewer. Dit is belangrik dat die Suid-Afrikaanse regering en sy instellings ten alle tye deursigtig is. Veral in Eskom se geval wat dringend beleggers nodig het, kan ons dit nie bekostig dat mense onder ʼn wanindruk gebring word oor wat daar aangaan nie,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Solidariteit se kommentaar het veral klem gelê op die belangrikheid van deursigtigheid vir potensiële beleggers, juis om die entiteit se lewensvatbaarheid te verseker. Du Buisson meen dit is van kardinale belang dat staatsentiteite soos Eskom teen verdere plundering en staatskaping beskerm word. Volgens Solidariteit verseker die terugtrekking van hierdie vrystelling dat Eskom dus nie verder enige onreëlmatige besteding kan verbloem nie.

“Minister Godongwana het tydens sy inhuldiging as minister onderneem om meer deursigtig te wees en om die publiek se vertroue in die regering te herstel. Om Eskom toe te laat om wanbesteding en blatante korrupsie te verswyg, druis hierteen in en bring die publiek en potensiële krediteure onder ʼn wanindruk,” meen Du Buisson verder.

“Bewerings van diepgewortelde korrupsie doen al jare lank die ronde, en vir skuldiges om vervolg te word, moet hulle op alle vlakke, ook in die finansiële state, verantwoordbaar gehou word. Dit was ʼn absurde voorstel wat in die kiem gesmoor moes word, nie net om Eskom teen homself te beskerm nie, maar om die Suid-Afrikaanse samelewing as geheel te beskerm. Korrupsie en die verergering daarvan in ons staatsentiteite sal nie langer geduld word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

minnie muis ·

daai verslag word hopelik eletronies gestoor, want daar gaan tien teen een a brand onstaan in die kantore of gebou

Marthinus Johannes ·

Solank die ANC aan bewind is en BEE in plek is sal Eskom “NOOIT” reg kom nie. Kyk maar na die ander staats instellings en orals waar hul vingers is. Talle nuwe projekte binne Eskom was destyds toe ANS aan bewind gekom het gekanseleer of afgeskiet om hul eie agendas in plek te kry. Moet nooit Mandela se woorde vergeet nie toe hy regmaak om af te tree en Mbeki oorvat nie. ” Hy eens Mbeki of te wel ANC kry 2/3 de meerderheid stemme sodat Hy/ ANC die grondwet kan verander en die wat Hy/ANC kan down wat hulle Wil.

skurweberg ·

Suid Afrika kan dit beslis nie langer bekostig dat die oortredings van skelms nie onmiddelik gestraf word nie. Hoop die draaipunt het vir nou aangebreek. No

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.