ʼn Eskom-gekontrakteerde veiligheidsbeampte is verlede week dood enkele dae nadat ʼn groep vermeende koperkabeldiewe op hom en ses kollegas losgebrand het.
Luidens ʼn verklaring wat Eskom Dinsdag uitgereik het, het die veiligheidsbeamptes sowat 30 swaargewapende verdagtes betrap wat glo gepoog het om koperkabels buite Eskom se Klipspruit-kliëntenetwerksentrum in Soweto te steel.
Die voorval het kort voor middernag op 11 Januarie plaasgevind. Die slagoffer het ongeveer twee dae ná die voorval aan sy kopbeserings beswyk.
“Daar word beweer dat die verdagtes probeer het om kabels van City Power te steel toe die veiligheidsbeamptes daar aangekom het. Nie een van die ander veiligheidswagte is beseer nie.
“Eskom simpatiseer met die familie van die veiligheidsbeampte en is diep bekommerd oor sulke kriminele aktiwiteite wat nou die lewe van ʼn broodwinner geëis het,” lui die verklaring.
Die energieverskaffer sê dit is sy verantwoordelikheid om elektrisiteit aan sy kliënte te voorsien, maar dat dade soos dié dit vir Eskom moeilik maak om sy verpligtinge na te kom.
“Ons sal nie die veiligheid van ons werknemers in gedrang bring nie en werknemers uit gebiede onttrek waar hul veiligheid in gevaar is,” sê Kith Maitisa, Eskom se bestuurder vir veiligheid en gesondheid in Gauteng.
Eskom sê voorts dat die diefstal en vandalisering van sy elektrisiteitsinfrastruktuur voortduur en in dié stadium erger is as wat Eskom kan hanteer, selfs met die nodige maatreëls wat getref word.
Die voorval het glo juis plaasgevind tydens ʼn projek waarmee Eskom bewustheid oor die impak van diefstal en die vandalisering van infrastruktuur wou skep.
Eskom doen ʼn beroep op enigeen met inligting oor die voorval om na vore te kom sodat die skuldiges aan die pen kan ry.
“Die saak word tans deur Eskom en die polisie ondersoek.”
Enige misdadige aktiwiteite kan by Eskom se misdaadlyn by 080 011 2722 aangemeld word, of by die naaste polisiestasie.
Hoekom het hulle nie terug geskiet nie ? Het hulle dan nie wapens gedra nie ?
Lees weer die berig.. daar was 6 wagte en 30 aanvallers…
Dit antwoord nie Shakespeare se vraag nie.
En ons genie Cele is so stil soos n oorlogskip. Mooi so ANC, julle het daarin geslaag om Suid Afrika in rommel te verander.
Jul cele weet buitendien niks van polisiewerk.