Eskom: ‘Wanneer gaan die waansin end kry?’

Argieffoto: GCIS

Die DA het volle deursigtigheid geëis oor wat hy beskryf as die waansin wat by Eskom plaasvind.

Ghaleb Cachalia, DA-woordvoerder van openbare ondernemings, het uitgevaar teen Eskom en pres. Cyril Ramaphosa oor die herinstelling van beurtkrag oor die naweek.

“Suid-Afrikaners is skaars terug in die nuwe jaar en ondanks pres. Cyril Ramaphosa se versekering in Desember dat daar tot middel Januarie geen beurtkrag sal wees nie, het Eskom beurtkrag heringestel.”

Volgens Cachalia is daar ook gesê dat Eskom-bestuurders en -hoofde se verlof gekanselleer is. “Ondanks die versekering was daar ontnugtering vir Suid-Afrikaners met die koms van die nuwe jaar.”

Cachalia het ook uitgevaar oor berigte dat Eskom R1,8 miljard soek vir prestasiebonusse. Dít terwyl die kragvoorsiener se skuld tot R450 miljard toegeneem het.

“Ontleders glo dat Eskom met 66% oorbeman is en ondanks die finansiële las hiervan word berig dat Eskom se geskatte 6 500 middelvlakbestuurders ongelukkig is met die verhoging van 7,5% wat aan werkers op laer vlak gegee word, en dat hulle in dieselfde bedingingseenheid as dié werkers geplaas wil word.

“Wanneer gaan hierdie waansin end kry? Wanneer gaan ons ophou om swak prestasie te beloon?” Volgens Cachalia wil Eskom ook ʼn verdere R69 miljard uit verbruikers wurg deur bykomende kragtariewe. Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) staan dié aansoek teen.

“Wanneer gaan Suid-Afrika die volle waarheid vertel word oor die wanbestuur en voortdurende diefstal wat die belangrike verskaffer van openbare dienste aan die ekonomie en die land beduiwel?”

Eskom het intussen om 23:00 Sondagaand beurtkrag beëindig en volgens die kragvoorsiener word geen beurtkrag vir Maandag verwag nie.

Eskom het Saterdag onverwags weer beurtkrag ingestel weens ʼn vervoerband wat by die Medupi-kragstasie naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo onklaar geraak het.

Beurtkrag kan egter weer op kort kennisgewing ingestel word, sou daar ʼn skielike verandering wees in die opwekkingsvermoë van kragstasies of weens onbeplande onderbrekings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
RINA

Hoera vir nuwe SA!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Pierre

Dat die land se ekonomie nou afhang van 1 vervoerband?

Hansie slim

Eskom sal nooit regkom sonder ‘n bevoegde bestuurspan nie. Daar is nie ‘n manier dat een man dit kan doen nie.

Sulet

Vra dit met trane in onse oë!

Christo

Dis onverstaanbaar dat een “maatskappy” die hele land gyselaar kan hou……en die ergste is, dit word maar net so toegelaat.