Eskom-werker dood in brand

Die Lethabo-kragsentrale, noordoos van Sasolburg. Foto: Google Maps

ʼn Eskom-werknemer is dood en nog een hospitaal toe gehaas met ernstige beserings ná ʼn ongeluk in die Lethabo-kragsentrale in die Vrystaat, oorkant Vereeniging.

Die kragvoorsiener het bevestig hy ondersoek ʼn “groot voorval”, wat Woensdagmiddag plaasgevind het.

“Ons is nog besig om die naasbestaandes in kennis te stel,” het Eskom in ʼn verklaring gesê. “Ons betuig ons meegevoel aan vriende en familie en bid vir die spoedige herstel van die beseerde kollega.”

Volgens die kragvoorsiener is noodreaksiespanne ontplooi en was polisiebeamptes gistermiddag op die toneel teenaan die Vaalrivier om die voorval te ondersoek.

“Die arbeidsdepartement is in kennis gestel en Eskom-bestuurslede het na die toneel gekom. Weens die skeur in die hoofstoompyp is [eenheid 5] tans buite werking, maar die ander eenhede is nog in bedryf.”

Eskom het onderneem om nog inligting aan te kondig namate dit bekend word. Geen nadere besonderhede is tans beskikbaar nie.

Maroela Media het gister berig Eskom ondersoek ʼn brand by die kragsentrale.

“Ons kan bevestig daar is beserings,” het die kragvoorsiener toe gesê, maar kon nie nadere besonderhede bekendmaak nie.

Intussen is ʼn Eskom-kliëntediensnetwerksentrum gister in Orange Farm, Gauteng, ontruim weens skade aan die gebou en voertuie wat deur ontstoke betogers veroorsaak is. Die groep het betoog teen oudits wat op elektriese installasies gedoen word en onwettige verbindings wat verwyder word.

Eskom het soortgelyke betogings in ander dele van Gauteng beleef, onder meer in Diepsloot, Protea Glen, Katlehong en Winterveldt.

Orange Farm beleef die afgelope paar maande kragonderbrekings weens transformators wat oorlaai word en dan ontplof weens die druk van onwettige verbindings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.