Eskom-werker (vrou) verdwyn spoorloos

Thembi Lucia Yende. Foto: Verskaf

Die Gautengse polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur na ʼn Eskom-vrouewerker wat verlede week spoorloos in Springs aan die Oos-Rand verdwyn het.

Sers. Harry Manaka, polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die vrou, Thembisile (Thembi) Lucia Yende (29), is verlede Woensdag deur haar ma as vermis aangemeld nadat sy die dag nie van haar werk af teruggekeer het nie.

“Thembi werk vir Eskom in Springs. Sy is die laaste keer deur haar vriend, met wie sy ʼn verhouding het, by haar blyplek in Tsakane gesien,” het Manaka gesê.

Manaka het gesê die Eskom-voertuig waarmee Thembi gery het, is verlede Donderdag by die Peter Botha-substasie in Springs opgespoor. Die voertuig was gesluit, daar was geen teken van Thembi nie en haar selfoon is afgeskakel.

“Volgens Eskom het Thembi nie die dag vir werk aangemeld nie, maar die opsporingstoestel dui aan dat die voertuig langer as 12 uur by die substasie geparkeer was.”

Die polisie ondersoek ʼn vermistepersoonsaak. Eskom het ook ʼn span aangestel om die polisie met hul ondersoek by te staan.

“Thembi se verdwyning word wyd op sosiale media gedeel en bespreek. Die omstandighede rakende haar verdwyning bly egter onbekend en die polisie se ondersoek duur voort.”

Manaka het gesê Thembi se familie het selfs al oproepe vanaf vreemde nommers ontvang van mense wat sê hulle weet waar sy is en dat hulle ʼn losprys eis as vergoeding.

“Die polisie het hul hande vol om te verseker dat haar familie nie ingeloop word nie en maak seker dat alle moontlike leidrade deeglik opgevolg word.”

Enigiemand met inligting oor waar Thembi haar kan bevind, of wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om ao. Khomo by 011 363 3535 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Dalk n paar randjies ook gegaps…werksplek word moontlik warm of kouevoete gekry…Eskom is vrot oral…geen werksetiek en eerlikheid oor algemeen

?!? ·

Pasop wat jy sê, sal jy jou woorde terugtrek en om verskoning vra as sy gevind word en dit aan die lig kom dat iets slegs met haar gebeur het? Sy is dalk oorrompel of gekaap en na die substasie gedwing deur ‘n kabeldief… enigiets kon met haar gebeur het.

Daar is baie goeie mense in Eskom wat steeds oor integriteit beskik en staande probeer bly in ‘n maatskappy waar korrupsie en ‘n gebrek aan etiek ongelukkig by meer as een plek kop uitsteek (ja ek ken hulle persoonlik). Hulle probeer juis om hul lig steeds te laat skyn (“pardon the pun!”) in ‘n donker werksomgewing. Moenie almal oor dieselfde kam skeer nie – as jou kind skoolgaan by ‘n skool waar boelies die skool se naam deur die modder sleep, sal jy verlief neem daarmee as gesê word ál die kinders in daardie skool is skarmunkels? Nie so gedink nie…

Om hierdie vrou onmiddellik te verdink van allerhande onheilighede bloot weens die reputasie van haar werkgewer, is wreed en ongevoelig teenoor haar en haar geliefdes. Bid eerder vir haar veilige terugkeer…

Cherokee ·

Kobus, anders as jy, hoop ek sy het die lotto gewen en verkas na groener weivelde. Jy het roekeloos gepraat en kan in ‘n verleentheid beland daaroor. Hopelik sal jy dan jou verskoning aanbied in hierdie forum. Hierdie is leeuwêreld. Dit is altyd wònderlike nuus as iemand gesoek word en ongedeerd gevind word.

A ·

My eerste gedagte na ‘n vorige berig is dat sy ontvoer is deur daardie mensehandel sindikate wat so opspraak maak in Springs.

Hoop sy word veilig gevind.

Wonder ·

Het ons polisie nou nog nie die tegnologie om mense te kan trace wat bv. boodskappe stuur vir losprys nie? Waaroor was Rica dan?!

Christine ·

Ek stem saam as ‘n moeder dit is nie die plek of tyd om klippe te gooi nie, ek bid saam haar familie dat sy veilig sal terug kom. Hou ons op hoogte asb.

Piket ·

Ons moet so versigtig wees wat ons sê.
‘n Wag voor die mond plaas is die beste raad ooit!

Susan ·

My meegevoel met die familie. As dit my kind is wat vermis is was Ek lankal stapelgek ver klaar. Ek hoop eerlik waar hul kan haar ongedeerd vind. Tot Dan Alle sterkte met die polisie en almal wat naarstiglik na haar soek em krag van Bo vir haar familie.

Mari ·

Ek bid vir hierdie vrou se veiligheid en veilige opspoor. Vriendin van my se seun Antoni Botha het op dieselfde dag ook spoorloos verdwyn. Alle soeke loop op niks uit. Kom ons glo afgesien van die tydsverloop dat hulle gevond sal word. Simpatie en sterkte aan die families

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.