Eskom-werkers sterf tydens kitsvloede

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

Twee werknemers van Eskom is dood toe hulle motor meegesleur is tydens kitsvloede in KwaZulu-Natal.

Makhosonke Mbhele van Dundee en Dumisani Israel Mlaba van Glencoe is Donderdag in hul motor meegesleur tydens ʼn kitsvloed in die uMzinyathi-distrik in KwaZulu-Natal.

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake het gesê Mbhele en Mlaba se kollegas, wat in ʼn motor agter hulle gery het, moes hulpeloos toekyk toe die twee in die Sampofu-rivier naby uMsinga deur die vloed meegesleur is.

Rampbestuurspanne, insluitend die polisie se soek- en reddingsdiens is Vrydag na die toneel ontbied, en die liggame is omstreeks 12:00 uit die water gehaal, byna 3 km vanwaar die voorval plaasgevind het.

Die departement het gesê die Mbhele en Mlaba se naasbestaandes en familielede is in kennis gestel en hulle liggame is positief uitgeken. Eskom en die regering sal die nodige ondersteuning bied vir die families insluitend berading vir die twee persone se kollegas wat steeds getraumatiseer is ná die voorval.

Nomusa Dube-Ncube, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het Vrydag haar meegevoel betuig namens premier Willies Mchunu en die provinsiale regering aan die families van die twee persone.

“Ons deel die hartseer van die verlies van dié twee Eskom-werkers wat hul lewens verloor het terwyl hulle die inwoners van die provinsie gedien het,” het sy gesê. “Die voorval herinner ons weer aan ons kwesbaarheid en onvoorspelbare weersomstandighede wat deur klimaatsverandering voortgebring word. Ons bid vir die families en vra God om hulle sterk te maak in hierdie moeilike tyd.”

Sy het gesê dit is ʼn slegte begin vir die Kersfees-vieringe. “Die impak van die swaar reën en vloede bewys weereens die ernstige impak van klimaatsverandering in ons provinsie,” het Dube-Ncube bygevoeg. “Ons het waarskuwings ontvang van nog reën wat tot kitsvloede kan lei. Alle spanne is op bystand geplaas en sal deur die feesgety heen gereed wees om vinnig te reageer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.