Eskom-werkers vas vir ‘onwettige aansluitings’

(Foto: baptisteh, Pixabay)

Twee Eskom-werkers en die eienaar van ʼn kleinhoewe is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn Eskom-transformator en ander materiaal van die kragvoorsiener gebruik het om onwettige aansluitings te doen.

Die drie het Donderdag vlugtig in die Atteridgeville-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding, het ʼn woordvoerder van Eskom gesê.

Die Eskom-werkers is vasgetrap nadat ʼn lid van die publiek ʼn wenk oor hulle beweerde bedrywighede aan die polisie deurgegee het. ʼn Ondersoek na die beweerde ongerymdhede het gevolg.

“Dit vorm deel van voortgesette pogings om die misdadigheid te bekamp wat pogings ondermyn om doeltreffend te wees, koste te verminder, diefstalverwante kragverliese te beperk, verkope te verhoog en inkomste in te vorder vir dienste wat gelewer is,” het Eskom gesê.

Altesame vyf Eskom-werkers is sedert die begin van die jaar vir soortgelyke beweerde oortredings in hegtenis geneem.

“Ons gaan voort om pogings te verskerp om enige misdadigheid, ook deur ons eie werkers, te stuit en sal ons volle samewerking aan alle wetstoepassingsagentskappe oor die sake gee,” het Motlhabane Ramashi, senior bestuurder vir onderhoud en bedryf in Gauteng, gesê.

Ramashi sê Eskom sal werkers wat by ongerymdhede betrek word ook aan interne tugstappe onderwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FM ·

Julle mag maar landswyd gaan kyk. Polokwane het ‘n gebied wat reeds van voor 11uur vanoggend sonder krag is en dit is steeds af terwyl dit gebruikers is wat betaal vir elektrisiteit.

Jacobus ·

Al ooit die uiterste van druppel in emmer beleef. Dit terwyl één dorp reken dat hulle 16000 plus sulke aansluitings het. Hierdie is nie “rocket science” nie. Kriminalitet plein en simpel.

Wilma ·

Verkoop die man se kleinhoewe om die skuld te delg en hou ookdie ander verantwoordelik. As mense se sakke geruk word sal hulle twee keer dink. Want dit kos jou mos dan meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.