Eskom wil krag in dié Noord-Kaapse munisipaliteite begin sny

(Argieffoto: pixabay)

Eskom het vyf munisipaliteite in die Noord-Kaap kennis gegee dat hy die kragtoevoer na die munisipaliteite gaan begin sny indien betalings nie gemaak word nie.

Dit is weens die munisipaliteite se oortreding van die betalingsvoorwaardes vervat in die elektrisiteitsvoorsieningsooreenkomste wat met Eskom gesluit is.

Volgens Stefanie Jansen van Rensburg, woordvoerder van Eskom, het die kragvoorsiener die Tsantsabane-, Magareng-, Kamiesberg-, Richtersveld- en Khai Ma‑ plaaslike munisipaliteite in die Noord-Kaap 14 dae kennis gegee. Die kragvoorsiener het hulle ook ingelig van sy voorneme om die kragtoevoer van 8 Julie af te sny indien hulle nie hul skuld vereffen nie.

Jansen van Rensburg sê sedert hulle die kennisgewing uitgereik het, is nog geen vordering van die munisipaliteite se kant gemaak om hul skuld te vereffen nie.

Volgens Eskom het hy begrip vir inwoners van die munisipaliteite en sal hy om dié rede gereguleerde kragonderbrekings instel in plaas daarvan om die krag net heeltemal te sny. Dit sal verbruikers die geleentheid gee om alternatiewe reëlings vir die geskeduleerde periodes te tref.

Indien die munisipaliteite Eskom nie betaal of betalingsooreenkomste aangaan nie, sal die kragvoorsiener op 8 Julie begin om van Maandae tot Sondae die krag van 06:00 tot 20:00 te sny. Eskom kan ook ná sewe dae van 8 Julie af die kragtoevoer heeltemal sny.

Eskom raai alle inwoners en plaaslike sakeondernemings wat deur dié kragonderbrekings geraak word, aan om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om lewensveiligheid te verseker en om skade aan toerusting, bedrywighede en sake te beperk.

Die volgende dorpe/munisipale gebiede sal geraak word:

Tsantsabane-munisipaliteit: Postmasburg

Magareng-munisipaliteit: Warrenton

Kamiesberg-munisipaliteit: Kamassies Rooifontein, Nourivier, Leliefontein, Paulshoek, Kamieskroon, Kharkams, Tweerivier, Koiingnaas, Kheis, Soebatsfontein, Spoegrivier, Klipfontein, Garies, Hondeklipbaai en Lepelfontein

Richtersveld-munisipaliteit: Port Nolloth, Alexanderbaai, Sanddrift, Kuboes, Lekkersing en Eksteenfontein

Khai Ma-munisipaliteit: Aggeneys, Pella, Pofadder, Onseepkans, Witbank, Dwagga Soutpan, Vrugbaar, Raap-en-Skraap en Klein Pella.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Dis almal ANC-beheerde munisipaliteite daardie en eskom word beheer deur die ANC-regering. So eintlik wil die ANC die ANC se krag afsny. Vreemd. Skryf die skuld af. Dis ‘n administratiewe proses wat hoogstens 1 week sal duur en wat alles binne die ANC-huis gedoen kan word.
Het die ANC en die SA Kommunistiese Party dan NIKS in hulle jare in ballingskap geleer nie? Sulke goed was ongekend in lande soos Pole, Oos-Duitsland en die Sowjetunie. Waar dieselfde party in beheer was van alles, is deur die bank uit dieselfde mond gepraat. Daardie lande was BAIE beter bestuur as wat die ANC-SAKP-alliansie SA bestuur.

San 7 ·

Ok goed en wel maar wat van Soweto wat weet nie hoeveel miljoene/miljarde skuld nie????????????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.