Eskom wil ontslae raak van peperduur, halfgeboude huise

Eskom het verdere finansiering aan die projek intussen gestaak. (Foto: Susan Lombaard)

Eskom sê hy is besig om ontslae te raak van ʼn onvoltooide behuisingsprojek naby die Kusile-kragsentrale waarvan die koste reeds R840 miljoen beloop het.

Die projek is sedertdien opgeskort.

Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, Khaya Magaxa, het vandeesweek uitgevaar oor ʼn verslag oor nuttelose en verkwistende besteding by Eskom.

Die aanvanklike begroting vir die behuisingsprojek was R160 miljoen toe daar in Augustus 2008 met bouwerk begin is. Eskom het in 2019 finansiering aan die projek gestaak, maar teen daardie tyd het die koste reeds ʼn verstommende R840 miljoen bereik.

Die Wilge-behuisingskompleks met sy 336 eenhede is gebou om blyplek te verskaf aan werkers terwyl bouwerk aan die Kusile-kragsentrale gedoen word. Dit is egter steeds nie afgehandel nie en Eskom het sedertdien miljarde rande bestee aan huurgeld en vervoer vir sy werkers.

Die Wilge-behuisingsprojek het reeds R840 miljoen beloop. (Foto: Susan Lombaard)

“Ons veroordeel dit ten sterkste en beskou dit as ʼn ernstige minagting van belastingbetalersgeld. Daar is ʼn behuisingskrisis in talle myndorpe en Eskom het ʼn verantwoordelikheid om ʼn katalisator vir transformasie te wees in die gemeenskappe waar hy bedrywighede het.”

Magaxa sê die huise was veronderstel om ʼn nalatenskapprojek te wees wat as voorbeeld moes dien vir ander mynmaatskappye.

Die huise was bestem vir werkers betrokke by bouwerk aan die Kusile-kragsentrale. (Foto: Susan Lombaard)

Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, sê die kragvoorsiener is in gevorderde samesprekings met die departement van menslike nedersettings wat moontlik belang stel om die eiendom te koop.

Hy sê ʼn aankondiging sal gedoen word sodra ʼn ooreenkoms bereik is.

Mantshantsha sê Eskom het reeds verskeie senior amptenare in verband met die projek en sy talle ongerymdhede aangekla.

“Een is skuldig bevind op 13 aanklagte en is in Januarie verlede jaar afgedank. Twee ander het bedank voor ʼn dissiplinêre proses kon plaasvind – een van hulle ʼn halfuur nadat die tugverhoor begin het,” het hy gesê.

Eskom is ook besig met siviele stappe om die geld van die amptenare te verhaal en het strafregtelike klagte aanhangig gemaak.

“Ons wag gretig op enige inhegtenisnemings en vervolgings in die saak, nes ons doen oor die meer as 100 ander strafregtelike aanklagte wat ons die afgelope drie jaar by die polisie ingedien het,” sê Mantshantsha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Pieter ·

Dit is tyd dat ons belasting betalers wakker skrik en baie gou ook. Die korrupte ANC sal ons melk tot daar niks meer oor is nie.

Pieter ·

Klink goed, se ons net waar begin ons sonder om trok toe te gaan.

tweeling ·

Ek sien nie ‘n huis nie, tensy ‘n woonstel nou ‘n huis genoem word

Gert ·

Yay iemand het besef daar is ‘n gat in die gravy pot. Net bietjie laat na R800 mil weg is.

Alet ·

Ag assebleif. Eskom en sy mense mors al jare geld. Baie jare.

Dup ·

Is daar erêns in hierdie land ñ projek wat beplan,gefinansier en op tyd en binne begroting korrek deur ons regering of staatsdepartemente voltooi is? Fotos asseblief……

Deon ·

Gaan die een staats departement nou n klomp huise by n ander staats instansie koop teen die sg astronomiese bedrag, of gaan hulle darem bietjie afslag kry…. Hoe dit ookal is, geld is in die water in. Hoop hulle kan iets wat die moeite werd is met die spul uitrig.

Gerd Lourens ·

Hierdie geld is weg!!! R2 500 000 per onvoltooide wooneenheid…

Anel ·

Ja, nê. En die Afrikaaners bou ‘n universiteit binne’ n jaar en onder begroting. Wys jou nou net!

Hennie ·

Wie gaan swak geboude gemors koop? Vra namens ‘n idioot….

christo ·

‘In gevorderde samesprekings met die Staatsdepartement Menslike Nedersettings’ . Eskom , die belastingbetaler het alreeds met jou vermorsing van geld, betaal vir julle bôggerop. Nou wil julle die gemors aan die staat afsmeer deur hulle te te vertel dis ‘n belegging. Opposisie Partye moet dit verhoed, want ons belasting gaan wéér vermors word.

Hennie ·

Geen wonder Kusile en Medupie is nog nie klaar nie en ver oor begroting! En die publiek moet nou betaal vir die onbevoegdhede binne Eskom!

Vranet ·

Hoe is dit moontlik dat ‘n projek, wat se aanvanklike koste R160M was, R840M kan kos en nog nie voltooi is nie. Wie is die verantwoordelike persoon of persone wat die projek moes monitor en toegelaat het dat die oorspronklike bedrag so ver oorskrei is. Wie het die geld goedgekeur. Kry daai skelms, verhaal van hulle wat verhaal kan word, sluit huule toe. Daar moet tog sekerlik vergaderings met die raad, bestuur en finansies gehou gewees het wat die projek aan betref. So, hulle is almal skuldig.

Colette ·

Bedrog, belasting betaler geld verkwis…geld wat gebruik kon word om broodnodige herstelwerk te doen aan kragstasies. Pravin Gordon dra netsoveel aanspreeklik as die vorige ESKOM raad.

Jr ·

Jip en Syrypy cyril wil nogal ‘n ” post apartheid stad” bou. Lmao

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.