Eskom wil Tshwane se krag sny

(Argieffoto)

Eskom het Dinsdagmiddag aangekondig dat hy dit oorweeg om die Tshwane-metro se kragtoevoer te sny “as een van die nodige stappe om uitstaande betaling te verseker”.

Die kragvoorsiener voer aan dat Tshwane die elektrisiteitsvoorsieningooreenkoms wat hy met Eskom aangegaan het verontagsaam deur te versuim om die R1,6 miljard wat aan hom verskuldig is betyds te betaal.

Die Tshwane-metro was veronderstel om die bedrag teen 17 Augustus te vereffen, maar byna ʼn week later is dit glo steeds nie gedoen nie.

Hoewel Tshwane nie sy agterstallige skuld ontken nie, voer die metro aan dat daar ʼn redelike verweer is vir die ophoping van die reusebedrag – insluitend dat Eskom en die metro verskillende faktureringsdatums het, wat beteken dat Eskom sy skuld by Tshwane verhaal nog voordat die verbruikers kans gehad het om hulle rekeninge te vereffen. Dit maak tydige betalings byna onmoontlik.

Eskom het vroeër vanjaar sy ontevredenheid oor Tshwane se trae betalings uitgespreek, maar enkele dae later het die metro aangekondig dat hy sowat R870 miljoen aan Eskom betaal het in ʼn poging om die stad se ligte aan te hou.

Die kragvoorsiener hou egter vol dat die metro tot op hede slegs R68 miljoen betaal het en “dit het min gedoen om die massiewe uitstaande balans op sy elektrisiteitsrekening te verminder,” lui die kragvoorsiener se verklaring.

Peter Sutton, burgemeesterskomiteelid vir finansies, het in reaksie op die kragvoorsiener se voorneme gesê dat die metro bewus is van sy huidige rekening en dat hy van plan is om dit te betaal.

“Ons verstaan ons verantwoordelikheid om ons rekening te vereffen, maar daar is egter ʼn aantal faktore wat in ag geneem word hieroor,” sê hy.

Volgens Sutton is die huidige bedrag van R1,6 miljard slegs met vier werksdae agterstallig en dat dit die enigste agterstallige rekening is wat die metro van Eskom het. Die uitstaande bedrag is slegs vir Julie “en alle vorige skuld is reeds betaal”.

Hiermee saam sê Sutton dat die stad en Eskom verskillende faktureringsdatums het, wat die hele proses belemmer om tydige betalings te verseker.

“Eskom vereis betaling binne 15 dae (16 Augustus) vandat sy faktuur uitgereik word, maar Tshwane se fakture vir Julie is eers teen 21 Augustus betaalbaar,” sê hy.

“Oor die algemeen betaal inwoners die metro binne ʼn 60-dae-siklus vanaf kragverbruik, terwyl Eskom verwag dat hierdie betalings reeds binne 15 dae geskied. Die metro het nie teen die tyd wat Eskom betaling vereis die nodige fondse om oor te dra terwyl daar op betaling van inwoners gewag word nie en dan veroorsaak dit agterstallige skuld soos dié.”

Die kragvoorsiener het by sy aankondiging gevoeg dat hy al by verskeie geleenthede met die metro se bestuur vergader het om te verseker dat die uitstaande bedrag eenmalig vereffen word, maar dat daar steeds nie gehoor aan die versoeke gegee word nie.

“Die wisselvallige betalings is onhoudbaar én onaanvaarbaar. Die Stad se voortslepende versuim om betalings te maak plaas groot druk op Eskom om voort te gaan met sy energieverskaffing aan die metro.”

Die kragvoorsiener het die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake reeds in kennis gestel van die risiko verbonde aan agterstallige en laat betalings op die Stad se kragrekening.

Eskom het gevolglik onderneem om voort te gaan met sy pogings om die geld wat aan hom verskuldig is in te win.

“Dit is inderdaad so dat ons met Eskom in gesprek getree het oor betalingsplanne en sal voortgaan om dit te doen. Ons het ook in die verlede met Eskom se topbestuur vergader om die stand van sake te bespreek. Van Eskom se jongste voorneme word dus met teleurstelling kennis geneem,” sê Sutton.

“Die Stad bly daartoe verbind om te betaal wat ons skuld, daarom sal ons voortgaan om inkomste by verskeie instansies wat self agterstallig is, in te vorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Jessey ·

Miskien, Tshwane is dit maar tyd om die wanbetalers af te sny, sodoende die mense wat wel betaal se toevoer te verseker. My eerlike opinie, sny my krag af en ek gaan oor na solar en nie julle of Eskom sien my ooit weer nie

Nettie ·

Flip Eskom!!! Gaan vat die NIE-betalers in Soweto vas!!! Waaragtig, nou gaan julle regtig te ver. Tswane het miljoene inwoners wat getrou betaal en NIE VERDIEN om so gedreig te word nie!!!!!!

Julle sal maak dat een en elk van ons sonpanele kry en julle finaal die vinger wys. Dan kry julle geen betalings nie!

Francois ·

Nettie – Die realiteit in die land is dat 90% van mense nie sonpanele kan bekostig om van Eskom ontslae te raak nie. So ander planne moet gemaak word om die munisipaliteit te verplig om sy rekening aan Eskom te betaal. Daar is reeds wetgewing wat die behoorlike betalings verplig, maar die base steur hulle nie veel aan die tandelose wet nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kry nog ‘n koeksister, sommer ‘n grote…

Niel ·

op daai reuse bedrag se rente van bv 6% is dit so R8 miljoen per maand se rente wat Eskom kon verdien.. met R8 miljoen kon Eskom op ‘n geskatte R20,000 per maand bv 400 werkers se salarisse betaal…

Truman Burbank ·

Dit behoort teen die wet te wees om n hele provinsie se krag af te sny, veral as die inwonders wel betaal. Daar behoort ander stappe teen die mislikepaliteit geneem te word.

Nadine ·

EN SO MOET DIE MENSE WAT HULLE REKENING ELKE MAAND BETAAL OOK ONDER DIESELFDE KAM GESKEER WORD. Ek wonder waar gaan al die betalings heen wat deur die publiek betaal word elke maand.

Cherokee ·

Die uitstaande bedrag is slegs vir Julie “en alle vorige skuld is reeds betaal”.
Dìt laat mens wonder hoeveel krag ‘n groot stad maandeliks gebruik.
Geen verduideliking oor die 68/870 miljoen syfers, vanaf Sutton.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wie moet ons glo? Eskom of Tshwane. Die een lieg net soveel soos die ander. Feit is, gewone mense kan nie meer die krag bekostig nie. Nou is almal in die moeilikheid.

gpsa ·

Tyd dat mens direk aan Eskom betaal en munisipaliteite uitsluit. Dan kan Eskom sien watter gedeeltes betaal en watter nie en daarvolgens optree. Beter as om die hele Tshwane onder een kam te skeer.

Johan ·

So jy (ons) skuld R6000m en wil hê Eskom moet tevrede wees met R68m…ek sou dit nie aanvaar nie. Vir my is die ergste dat die geld waarskynlik gevorder is, iemand het dit net opgevreet, al die mooi duur karre wat hul die afgelope 24jaar opgedons het. Pateties, nou sit ons met die probleem….hulle is n kanker. Kan hul beslaglegging doen op die munisipaliteit?

marius ·

Waarom is dit in die eerste plek nie betaal nie ? Want daar is geen beheer oor die vir wie julle verniet krag gee nie . Gaan winkel toe en probeer iets vat sonder om te betaal ….dis mos julle tiperende gedrag.

ROELOF ·

Maar Eskom oorweeg dit geensins om Soweto se krag te sny nie. Duidelik vrees hul die inwoners van Soweto.

Fanie ·

Kragvoorsiening moet uit munispale hande geneem word – hulle is parasitiese middelmanne. As almal by Eskom direk is, kan almal soos ons Eskom direk kliente hanteer word, want glo my as jy nie betyds betaal nie sny hulle jou af – vra nie vrae nie

Jean-Pierre ·

In elke Dorp en Stad of te wel wyk in Suid Afrika betaal ons die munispaliteit om Eskom te betaal, maar in elke Dorp en Stad in Suid Afrika is daar n munispaliteit gebou en ‘n kerk. Waarom los ons nie die munispaliteit en betaal dan die kerk om ESKOM te betaal nie. Die principle bly dieselfde en kan orals toegepas word. Een keer n maand n oor betaling doen aan die kerk en hulle reel die dienste vir elektrisiteit.

007 ·

Eskom mag nie iemand se krag afsny wat wel betaal nie. Dit is teen die grondwet. Sny die onwettige verbindings af en laat elke verbruiker direk vir Eskom betaal. Eskom op sy beurt betaal dan die munisipaliteit vir die diens wat hy lewer om die elektrisiteit te verdeel en in stand te hou. As Eskom egalig elektrisiteit kon lewer kan hulle dalk sulke dreigemente maak.

Jasmyn ·

Eerstens…. sny die WANBETALERS se krag af en laat die onskuldige betalers met rus. Tweedens…. verander jul BETAALDATUM van 21e van die maand na 30e van die maand, aangesien meeste mense nog nie teen 21e salaris ontvang het nie. Niemand kan betaal as hul nog nie salaris ontvang het nie en dan wil julle hul dreig vir laat betalings… belaglik!!

Jack ·

Soweto bestaan hoofsaaklik uit nie betalers want hulle weet hulle kan net betoog die plek afbreek en dan is dit weer ok in die anc staat. Sterkte met dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.