Eskom-woordvoerder ook vort

Sikonathi Mantshantsha (Foto: Sikonathi Mantshantsha/Facebook)

Sikonathi Mantshantsha, wat drie jaar gelede by Eskom aangesluit het, verlaat die kragvoorsiener Dinsdag wanneer sy kontrak tot ʼn einde kom.

Mantshantsha het “in ʼn moeilike tydperk ingestem om as hoofwoordvoerder by Eskom aan te sluit”, sê Calib Cassim, tussentydse uitvoerende groepshoof, in ʼn verklaring. “Dit was ʼn tydperk waar die organisasie weer vertroue en geloofwaardigheid moes opbou by die publiek en belanghebbendes.”

Cassim sê Mantshantsha het oor die drie jaar gehelp om Eskom se openbare beeld te verbeter deur “eerlike en openlike kommunikasie” oor Eskom se ware posisie tydens ʼn moeilike periode wat gekenmerk is deur bedryfsprobleme en toenemende beurtkrag. “Eskom het meer aanspreeklik en deursigtig geword in sy eksterne posisionering, terwyl gereelde spanvergaderings gehou is om die publiek op hoogte te hou van sleutel-ontwikkelings.”

Cassim het Mantshantsha bedank vir sy bydrae tot die organisasie. “Ons wens hom alles van die beste toe op sy volgende reis.”

Daphne Mokwena sal intussen met onmiddellike effek waarneem as hoofwoordvoerder terwyl die aanstellingsproses vir ʼn permanente woordvoerder voortduur.

Sy is tans senior bestuurder vir die handelsentrum van uitnemendheid en is al 21 jaar lank in diens van Eskom. Sy was senior kliëntediensbestuurder in Gauteng en die Gauteng-verspreidingswoordvoerder “tydens uitdagende kwessies soos Soweto-skuld”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

DEON ·

Dink Mnr Cassim regtig dat Eskom se beeld by die publiek oor die afgelope drie jaar verbeter het.

Anton ·

Handelsentrum van uitnemendheid. Dankie tog daar is een, dink net hoe swak sou hulle diens gewees het daarsonder ????

Papsak ·

Ag alles bly vrot hulle wil maar net hul self en kaders beskerm

M ·

As EERLIKE werknemer ….. ? …… Sou ek ook my trekpas vat …. Dadelik

Nettie ·

Die “cage” is ge”rattle”. Kom ons kyk wat val als daaruit….

Harley Davidson ·

Ek sou ook hardloop daardie skip sink teen ‘n hoë spoed.

Watsenaam ·

Sien Goeie rotte hardloop ver weg , want hulle weet wanneer ‘n skip gaan sink.

Truman Burbank ·

Ek dink hierdie keer het die skadelike rotte eerste gehardloop

Prikkie ·

Stel maar weer vir Andrew Etzinger aan as woordvoerder, hy was dit tevore en sover my kennis strek is hy nog in Eskom se diens.

Nie Verbaas ·

Ek wonder net na watter handelsentrum van uitnemendheid verwys hulle? Hulle het seker nie te veel te doen gehad nie.

Jaco ·

Het hy ook R7miljoen PER JAAR salaris gekry soos De Ruyter? Eks geensins jammer vir dié mense nie. Na belasting is daar steeds oorgenoeg van daai ontsettend geld oor dat De Ruyter nooit weer hoef te werk nie.

Pierre ·

Maar n klein vergoedings paket vir n uitvoerende hoof met soveel verantwoordelikheid

Elma ·

Ek moes die ou se teenwoordigheid by die poets vn Eskom se beeld gemis het…..

KAIROS ·

Hoe vinniger Eskom totaal sy gat sien, hoe vinniger kan daar n ander ordentlike plan gemaak word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.