Eskom, wys ons jou diesel- en steenkoolkontrakte, gelas hof

Die Komati-kragsentrale. (Argieffoto: Eskom)

Die presiese besonderhede rakende Eskom se kontrakte met sy verskaffers van steenkool en diesel én met buurlande sal binnekort aan Suid-Afrikaners bekend wees.

Die hooggeregshof in Pretoria het Eskom immers Vrydag beveel om alle inligting rakende sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum bekend te maak.

Dít nadat Eskom die kontrakte klaarblyklik geheim wou hou.

AfriForum het die kontrakte reeds in Julie 2022 aangevra toe hy destyds ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien het.

Die burgerregteorganisasie vermoed dat die inligting vervat in hierdie kontrakte moontlik onreëlmatighede en korrupsie by die kragvoorsiener aan die lig kan bring.

Eskom het egter destyds “sonder genoegsame verduideliking” geweier om die inligting aan die burgerregteorganisasie beskikbaar te stel.

Toe nader AfriForum die Pretoriase hooggeregshof.

Regter Leonie Windell het Vrydag bevind dat Eskom versuim het om te bewys dat hy redelike gronde het vir die weiering van toegang tot steenkool- en dieselvoorsienings- en vervoerkontrakte.

“AfriForum en lede van die publiek het ’n belang om toegang tot al hierdie kontrakte te verkry om die terme, aankoopprys en tydperke van die kontrakte te bepaal, asook of die ooreengekome pryse verskil van die gemiddelde gepubliseerde prysdata om sodoende vas te stel of Eskom markverwante pryse of opgeblase pryse betaal.”

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, het die uitspraak verwelkom en beskryf dit as ’n oorwinning en ’n deurslaggewende stap nader aan aanspreeklikheid en deursigtigheid in Suid-Afrika se energiesektor.

“Kragonderbrekings teister Suid-Afrika al te lank. Burgers verdien ’n kragvoorsiener wat met integriteit funksioneer, nie een wat in korrupsie en wanbestuur gewikkel is nie.”

AfriForum hou vol dat Eskom, synde dit een van die land se grootste en belangrikste staatsondernemings is, ’n regsplig het om deursigtig en aanspreeklik te werk te gaan. Daarom is AfriForum oortuig dat die inligting wat in hierdie kontrakte vervat is, bekend gemaak moet word.

Eskom het nou tot 5 April 2024 om die inligting aan AfriForum bekend te maak.

Volgens Boshoff is die burgerregteorganisasie reeds besig om ’n gespesialiseerde span bedryfs- en regsdeskundiges saam te stel wat die kontrakte oor die volgende paar maande noukeurig sal ontleed.

“Deursigtigheid is onontbeerlik om lede van die publiek se vertroue te handhaaf en om korrupte praktyke en wanadministrasie te verhoed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henk ·

Afriforum moet dalk die instandhouding skedules ook aanvra. Indien geskeduleerde instandhouding gedoen word soos jare terug sal daar nie hierdie onbeplande onklaar rakings plaasvind nie.

OU SAAR ·

Dankie AfriForum.
Mag ons Hemelse Vader gee dat julle vir ons ń bietjie verligting kan bewerkstel.
Die beurtkrag het nou al ń lewenstyl geword, maar ek verstaan nie die styging in kragkostes nie.
Ons gebruik koopkrag en in die afgelope jaar het ons kragaankope met R1500 gestyg. Ons het altyd met gemak met R2000 se krag ń maand deur gekom, wat ook verskriklik baie is, maar ons staan nou op R3500 ń maand. Ń gedeelte daarvan word wel deur my man se werkgewer betaal, maar nogsteed is dit bitter baie geld. Die ergste van alles is, ons werk super spaarsamig met die krag. Ons het nie eers ń elektriese stoof nie, gebruik ń hasstoof. Het alle ligte met ennergiebesparende ligte vervang, is nou tans besig om ons huishoudelike toestelle ook te vervang met ennergie bespatende toestelle. Glo my, dis nie ń grap nie. Toestelle is peperduur.
Hopelik kan AfriForum vir ons bietjie verligting bewerkstellig met die kragtariewe.
Sterkte AfriForum.

Papsak ·

Dankie Afriforum gaan voort laat skelms openbaar word gee gas vir hulle

Bolandse Nooi ·

Aaaaaaggggggggggg man, julle mors jul tyd! NATUURLIK sal die inligting bekook word, nes die ANC se sg. “kaderontplooingsinligting” OOK bekook is. Waarom nog enigsins “worry” … werk eerder daaraan om van die hele spul ontslae te raak (al twyfel ek aan die moontlikheid hiervan, want julle weet wat daar gesê word van iets wat soos iets in ‘n wolkombers vassit).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.