Estina-suiwelprojek: OB kry wéér bloedneus

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die Konstitusionele Hof het nou ook adv. Busisiwe Mkhwebane, Openbare Beskermer, se aansoek om verlof tot appèl teen die DA se suksesvolle aansoek rakende die Vrede-suiwelprojek van die hand gewys. Die aansoek is Vrydag met koste van die hand gewys.

Die OB het haar in Julie tot die Konstitusionele Hof gewend om appèl aan te teken nadat die appèlhof haar aansoek tot appèl teen ʼn uitspraak van die Pretoriase hooggeregshof geweier het.

Dié hof het in Mei verlede jaar in die guns van die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) beslis en die OB se eerste verslag oor die omstrede Vrede-suiwelplaas ter syde gestel.

“Die OB het nou alle moontlikhede uitgeput om te verhoed dat senior politici betrokke by die omstrede Gupta-gekoppelde Vrede-suiwelprojek aanspreeklik gehou word en moet nou die verslag finaliseer,” sê Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, nou.

Maroela Media het vroeër berig die DA en Casac het in Oktober 2018 aangevoer Mkhwebane het nie ʼn behoorlike ondersoek na die omstrede suiwelprojek gedoen nie en ook nie die senior politici wat daarby betrek word noukeurig ondersoek nie.

“Die taktiek van voortdurende ontkennings deur die politieke argitekte van die Vrede-suiwelprojek is tot nou toe ondersteun deur die OB se taktiek om die regsproses te vertraag. Intussen word die desperate en verarmde begunstigdes van hierdie projek sewe jaar lank sonder enige geregtigheid eenkant gestoot,” meen Jankielsohn.

Die DA doen nou ʼn beroep op Mkhwebane om die verslag te finaliseer met dieselfde entoesiasme wat sy getoon het toe sy appèl teen die DA se suksesvolle hersieningsaansoek aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Gaan die Magashule Familie ook moet vrduidelik of word hy steeds beskerm.

Yvonne

Sy bly onbevoeg vir haar amp……punt

twaalfboor

Kry net die heeltyd bloedneus….. wanneer kom die upper cut gevolg met ñ uitklop hou?

Gemaskerde Sopbeen

Mors eers geld deur swak of bevooroordeelde werk en dan weer regskoste om die gemors aanvaarbaar verklaar te kry. Dis hoogtyd dat mense soos adv. Busisiwe Mkhwebane nou persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir regskoste.

Dirk Mostert

Sy beskerm die korruptes, nie die publiek nie. Behoort self aangekla te word.