Estina-suiwelprojek: Vrystaatse regeringsbeamptes vas

geld 4 kontant rand

(Argieffoto)

Vyf regeringsbeamptes van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling is Maandag in hegtenis geneem vir korrupsie, bedrog en geldwassery nadat hulle klaarblyklik meer as R244 miljoen van die regering gesteel het. Dié beweerde korrupte aktiwiteite hou verband met die omstrede Estina-suiwelprojek in die Vrystaat.

Die drie senior beamptes, ʼn voormalige departementshoof en ʼn afgetrede beampte, sal na verwagting Dinsdag in die Bloemfonteinse streekshof verskyn. Die beamptes se ouderdomme wissel tussen 39 en 59 jaar.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê die bewerings teen die vyf beamptes hou verband met ’n maatskappy genaamd Superior Quality Trading, wat glo by die suiwelprojek betrokke was. Dié maatskappy dryf ook handel as Rekgonne Community Projects. Tydens die ondersoeke na die Estina-saak is gevind dat daar onreëlmatighede in die kontantvloei van een van die maatskappy se bankrekeninge was.

Ramovha sê in Junie 2014 het Rekgonne Community Projects ʼn ooreenkoms met die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling aangegaan om alle projekte namens die departement vir twee jaar te behartig. Die departement het tussen 2012 en 2016 glo meer as R244 miljoen aan dié maatskappy oorbetaal.

Verskeie regeringshoës in die Vrystaat word jare lank al daarvan verdink dat hulle die Estina-suiwelproduk as die spreekwoordelike melkkoei gebruik het om regeringsfondse te tap. Die voormalige finansiële hoof van die departement, Sylvia Dlamini (49), en die huidige adjunkdirekteur-generaal van die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, Malikomo Mohapi (55), is ook in Julie vanjaar deur die Valke in hegtenis geneem nadat ’n beweerde uitgebreide bedrieglike skema ontbloot is.

Albei beamptes is uit op borgtog van R10 000 elk en sal na verwagting 10 September weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

JohanR ·

En Ace was seker nie eers daar nie. Vang die klein vissies op…..the ANC way!

Johann ·

Ja shure. Als en aomal BEHALWE Ace nie? As daar al ooit ‘n bewys waa dat die ANC onaantasvaarheid uitdeel aan sy COMRADES,dannis dit die feit dat een van die mees korrupte mense los loop en aan gaan met sy vergrype. Lekka da ACE!

Pieter ·

Nou gaan dit nog vyf jaar vat vir die ondersoek en dan word die saak terug getrek. Ons ken al die stories niemand sal tronk toe gaan nie die korrupte ANC sal sorg daar voor.

Jaco ·

Dit is nie genoeg nie. Want die mense het n lekker lewe gelei met die geld. Daar moet eers swaar strawwe gegee word. En alles van die mense moet verkoop word.

Kokerboom ·

Hoekom lees die Valke nie Pieter-Louis Myburgh se boek State Capture: Ace Magashule nie.
Alle werk is reeds vir hul gedoen

koos10 ·

‘n Vis vrot van die kop af en die ANC kap die stert af om die vis eetbaar te maak.

Mariana ·

Bedrog van R244miljoen en hulle kry R10 000 elk borg. Wow snaaks hoe regstelsel vir sommiges werk maar nie vir ander nie.

Jaco ·

Ek sou dié korrupsie nog verstaan as die begunstigdes van dié melkprojek wit was, maar dis nie so nie. Die begunstigdes wat so lelik ingeloop is, is van dieselfde ras as die amptenare en politici wat so korrup was. Mens hanteer mos nie jou eie mense so nie. Iets maak nie sin nie.

twaalfboor ·

My MAGTAG man….. hoe lank vat dit julle om hierdie klomp vas te trek? Ons weet al vir jare van die ongeruimpdhede. Is almal so blind dat dit nie raakgesien word nie??????

Persheks Adri ·

R244 miljoen en slegte R10 000 borg? Korrupsie op sy beste en WEER gaan niks gebeur nie!!!

Scalla ·

Wat het geword van die prentjie teen die muur wat ace vir sy motorbestuurder persent gegee het?

Genis ·

Cyril your people man? Tell us about your Ace? Of is Z jou baas?

Moedeloos ·

En wat gaan nou gebeur. Die geld is weg so hoe gaan hul als terugbetaal?

LANA is ELANè ·

Is die “kaartman Ace” nie veronderstel om een van hulle te wees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.