Eswatini monitor moontlike koronavirus-geval

Die liggaam van ‘n slagoffer van die gevreesde koronavirus word uit ‘n hospitaal Wuhan, China, verwyder. (Foto: Chinatopix via AP)

Eswatini (voorheen Swaziland) monitor ʼn pasiënt wat moontlik die gevreesde koronavirus (COVID-19) opgedoen het.

“Die vermeende geval [pasiënt] word behandel in ʼn gesondheidsinstelling waar alle maatreëls vir infeksiebeheer en beheerstandaarde wat verband hou met só ʼn geval, gevolg word,” het dr. Vusi Magagula, direkteur van gesondheidsdienste in dié land, gesê.

“Die pasiënt het op 6 Februarie deur die Ngwenya-grenspos die land binnegekom en was op ʼn lys van mense wat ingevolge gesondheidstoetsprotokol gemonitor is nadat hulle deur grensposte gereis het.”

Lizzie Nkosi, die land se gesondheidsminister, het volgens die eSwatini Observer gesê die uitslae van bloedmonsters van die 27-jarige vrou word na verwagting Maandag of môre terug in die land verwag.

Die koronavirus (oftewel 2019-nCoV) (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Die vrou word in isolasie op ʼn ongespesifiseerde plek behandel nadat sy glo griepsimptome getoon het. Dit het vrese laat ontstaan dat sy moontlik die dodelike virus, wat in Desember verlede jaar vir die eerste keer in Wuhan in China aangemeld is, opgedoen het.

Tot dusver is 51 857 laboratoriumgevalle van die virus wêreldwyd bevestig. In China staan die syfer op 51 174 gevalle en altesame 1 666 mense het reeds weens COVID-19 gesterf. Die siekte is reeds in 24 lande bevestig. Suid-Afrika is nié een daarvan nie.

ʼn Derde pasiënt het nou ook buite China gesterf. ʼn Chinese toeris in Frankryk is die jongste slagoffer van die virus buite China se grense.

Amerikaners wat aan boord van die Diamond Princess was word in busse van die hawe by Yokohama weggery. Hulle het kort daarna huis toe gevlug nadat hulle dae lank in kwarantyn op die skip geplaas is. (Foto: Jun Hirata/Kyodo News via AP)

Egipte het ook die afgelope week sy eerste bevestigde geval van die virus aangemeld.

Intussen het Australiese eerste minister Scott Morris aangekondig dat die land sy burgers wat op die passasierskip Diamond Princess in Japan gestrand is, na Australië wil terugvlieg.

Meer as 200 Australiërs is steeds aan boord van die skip en 24 van hulle het reeds positief getoets vir die koronavirus, het die Australiese ABC berig. ʼn Huurvlug sal na verwagting Woensdag uit Australië na Japan vertrek om die Australiërs op te pik.

Hulle sal vir ʼn verdere 14 dae in kwarantyn geplaas word om verdere verspreiding van die virus te voorkom, het Morrison gesê.

“Ek is geweldig gefrustreerd daaroor, maar ons eerste prioriteit is om die gesondheid en veiligheid van Australiërs ín Australië te beskerm.”

Passasiers wat aan boord van die Diamond Princess was, is eindelik toegelaat om huis toe te gaan. (Foto: Jae C. Hong/AP)

Die Diamond Princess met sy 3 700 passasiers en bemanningslede aan boord is tot Woensdag in kwarantyn geplaas nadat een passasier aanvanklik positief vir die virus getoets het.

Kanada, Hongkong en Italië beoog nou óók om hul burgers te help om die skip te verlaat terwyl die getal mense aan boord wat met die virus besmet word, steeds styg.

Die VSA het reeds 340 van sy burgers wat aan boord van die skip was, huis toe gevlieg. Hulle word nou weer 14 dae lank in kwarantyn geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.