Die eerste minister van Eswatini (voorheen Swaziland) is Sondag in ʼn Suid-Afrikaanse hospitaal dood nadat hy Covid-19 opgedoen het.
Ambrose Dlamini (52), is vroeër vandeesmaand in ʼn hospitaal hier opgeneem nadat hy positief vir die virus getoets het.
Eswatini is Afrika se laaste absolute monargie.
Themba Masuku, adjunk- eerste minister, het die aankondiging gister in opdrag van die koninklike familie gedoen. Masuku het nie veel besonderhede verskaf nie, maar het gesê Dlamini is dood “terwyl hy mediese behandeling in ʼn Suid-Afrikaanse hospitaal ontvang het”.
Dlamini het verlede maand al bekend gemaak dat hy positief vir Covid-19 getoets het, maar het toe gesê hy voel goed en is asimptomaties.
Dlamini, ʼn sakeman en betreklike politieke groentjie, is in Oktober 2018 as eerste minister aangewys.
Die rol van die regeringshoof is beperk in Eswatini, waar die huidige koning, wat sedert 1986 regeer, alle ministers benoem en die parlement beheer.
Eswatini het tot dusver 6 700 bevestigde Covid-19-gevalle en 127 sterftes weens die virus onder sy bevolking van nagenoeg 1,2 miljoen mense gehad.
ʼn Burgerregtegroep in Suid-Afrika, die Swaziland Solidarity Netwerk (SSN), het die regering intussen daarvan beskuldig dat die eerste minister spesiale behandeling gekry het omdat hy na ʼn hospitaal in Suid-Afrika, waar veel beter mediese sorg beskikbaar is, oorgeplaas is.
Meer as 39% van die land se inwoners leef volgens die Wêreldbank onder die broodlyn.
Toemaar teen die tempo wat als insluitend ons gesondheid stelsel agteruit gaan gaan ons een va die dae oorsee moet gaan vir gehalte mediese behandeling.