eThekwini het ‘groot planne’ vir ikoniese pretpark se perseel

Durban Funworld (Foto: Verskaf)

Die eThekwini-munisipaliteit sê hy het “groot planne” vir die perseel waarop Durban Funworld al dekades lank geleë is. Die DA in eThekwini glo egter nie dat daar iets hiervan gaan kom nie, maar dat dit net gaan bydra tot die verdere verval van Durban.

Maroela Media het vroeër berig dat die ikoniese pretpark se einde aangebreek het en die park op 1 Mei finaal sy deure gaan sluit.

“Die aankondiging om die huurkontrak te kanselleer volg ná eThekwini reeds aan groot planne gewerk het vir toekomstige gebruik van die perseel,” sê Musa Mbhele, eThekwini se stadsbestuurder.

“Een van die vele opsies wat die stad vir die terrein ondersoek het, was om die pretpark deel van uShaka Marine World te maak, maar dit het deur die mat geval.”

Volgens die munisipaliteit was Nic Steyn, derdegenerasie-eienaar van Funworld, nie bereid om die finansiële inligting te verskaf wat uShaka Marine World in staat sou stel om ʼn ingeligte besluit te neem nie.

Die munisipaliteit werk tans aan ʼn tenderproses om potensiële ontwikkelaars te kry sodat die Funworld-terrein opgeknap kan word.

“Ons hoop om ʼn suksesvolle ontwikkelaar te vind wat ʼn wêreldklasfasiliteit van die perseel kan maak. Ons inwoners en besoekers verdien ʼn fasiliteit wat tot die algehele estetika van ons ‘Goue Myl’ sal bydra,” sê Mbhele.

Die DA in eThekwini doen egter ʼn beroep op die burgemeester, Mxolisi Kaunda, om Steyn se huurkontrak te verleng.

“Die burgemeester moet dringend met die eienaar van Funworld beraadslaag om óf die huurkontrak van die pretpark te verleng óf saam met hom te werk sodat hy sy vaardighede kan oordra na die nuwe ontwikkeling wat Funworld gaan vervang,” sê Sakhile Mngadi, DA-raadslid.

Volgens Mngadi is die einde van dié pretpark ʼn groot slag vir die sentrale strandfront.

“eThekwini het nou niks aantrekliks om aan toeriste op sy Goue Myl te bied nie, die toerismekantoor in Durban se ellende word hiermee slegs verdiep. Hulle sukkel reeds om die stad aan internasionale besoekers te bemark.”

Mngadi sê toerisme is uiters belangrik vir ʼn toeristestad soos Durban en dat die agteruitgang van hierdie sektor die metro nog verder in die afgrond van diensleweringsmislukking en verval dompel.

“Die afgelope Desember was die swakste vakansieseisoen wat die stad nog beleef het en aanwysers toon dat dit oor die Paasvakansie net so sleg gegaan het.

“Daar word na bewering planne beraam vir die vestiging van ʼn nuwe ‘wêreldklas’-temapark in die plek van Durban Funworld, maar soos alle groot ontwikkelingsplanne vir die stad is daar min tot geen aanduiding dat dit ooit tot stand sal kom nie,” sê Mngadi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Andrew ·

Al jare nie regtig n plek wat van enige ikoniese waarde vir die Afrikaaner is nie.

Bulkalf ·

My hene Musa, so wat vertel jy my nou?
Slim is julle slim sowaar.

Perdeby ·

Groot planne?? Het enige groot planne van hulle al gewerk? Gaan seker na ‘n kader toe, wat ‘n pub en straat venders gaan wees.

Impact ·

So verdryf julle die Afrikaner. Geen hulp sal vir ons gegee word nie. Niemand wil in elk geval meer in daardie nes gaan vakansie hou nie, jy voel nie veilig om net deur die strate te ry nie. ‘n Era vir altyd verby en die eienaar v.d Park moet dit ook maar begin verstaan. Hulle pret is nie die pret wat ons ingedagte het nie. Groot skaalse korrupsie kan weer hier verwag word v.d ANC en sy kaders

Madeleine ·

Durban en PE se verval is regtig Baie hartseer. Was geskok toe ek laas daar was. Vuil stink drink water in PE… Skande!

Suzette ·

Dit is verseker twee plekke waarnatoe ek nie sommer weer sal gaan nie.

Alta Alleman ·

Daar is n groot droogte in PE. Damme is uitgepit en dis die laaste druppels in die dam wat so sleg proe.

Nozi ·

Kyk al kry ek nou ‘n vakansie van ‘n maand lank in Durban, sal ek dit van die hand wys. Die plek is vuil en baie onveilig. Dankie maar nee dankie. Ek kan verstaan dat die vakansie seisoene al swakker raak.

piet ·

Die plek is bankrot, beweeg aan. Die eienaar soek al ‘n dekade lank na iemand om die plek oor te vat maar wou steeds aanbly as een of ander bestuurder. Nou dat die storie heeltemal bankrot is, blameer hy almal en alles behalwe homself. Te lank aangehou, hy moes JARE terug al besef het die plek maak nie wins nie en dit verkoop het. Lyk vir my hy het uit bloot nostalgie aan die plek probeer vasklou. Ongelukkig werk besigheid nie so nie.

Tipper ·

Kom sit die parkie hier in die Kaap op, hier is baie toeriste.

piet ·

So terloops – as ek reg onthou was die plesierritte by Ratanga Junction ook maar lekker duur. Dalk is dit die probleem.

whatever ·

Ag asseblief tog net! Moet ons nou rerig glo dat hul iets tot stand kan bring? Grappie

Saartjievandiebosveld ·

As ek die eienaar was…sou ek elke “ride” af gebreek het…dit Dan vir scrap yster verkoop… sal vir hulle kaal stuk grond los.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Niks blywends of goed het al ooit onder ANC beheer gebeur. Moenie julle asems ophou nie!

Lillian ·

Ag asseblief, julle kan nie eens die rioolstelsel herstel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.