Etiekkomitee bevind teen ‘Gupta-minister’

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne (Foto: Siphelele Dludla/ANA)

Die parlementêre komitee vir etiek en ledebelange het bevind dat Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale hulpbronne, die etiese kode vir lede van die parlement oortree het.

Dit is omdat hy onder meer adviseurs aangestel het wat sakevennote was van die berugte Gupta-broers en ook versuim het om te verklaar dat hy in 2015 op dié broers se onkoste in Dubai en Indië rondkerjakker het.

“Gevolglik het hy versuim om op só ʼn manier op te tree wat die publiek se vertroue in die integriteit van die parlement bevorder en het hy ook versuim om ten alle tye op te tree in oorleg met die vertroue wat die publiek in hom as lid van die parlement geplaas het,” lees die komitee se bevindings.

Zwane is een van die lede van die parlement wat in die voormalige Openbare Beskermer Thuli Madonsela se veelbesproke verslag oor staatskaping geïmpliseer word. Luidens die verslag het hy die Gupta-familie gehelp om onregmatig invloed uit te oefen oor die staat en staatsbeheerde instansies. Hy het die bewerings destyds ontken.

Die DA se James Lotriet en die drukgroep Outa het gevolglik in Oktober 2017 ʼn klag teen hom by die etiekkomitee ingedien.

Die komitee het by die Nasionale Vergadering aanbeveel dat verskeie stappe teen Zwane, steeds ʼn lid van die parlement, gedoen word. Die komitee beveel aan dat:

  • Zwane ʼn bedrag gelykstaande aan vyf dae se salaris beboet word;
  • hy ʼn verskoning in die parlement moet aanbied vir die spesiale adviseurs wat hy aangestel het, wetende dat hulle sakevennote van die Guptas was;
  • Zwane vir een parlementêre termyn van alle parlementêre debatte geskors word.

Zwane word intussen krimineel aangekla van bedrog met betrekking tot die veelbesproke Estina-suiwelprojek, waartydens miljoene rande van belastingbetalers se geld via die suiwelplaas gekanaliseer is om vir ʼn luukse Gupta-troue by Sun City te betaal. Zwane was die provinsiale LUR vir landbou toe die Estina-projek afgeskop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frank ·

5 dae se salaris beboet. Nee magtig, geen wonder die spul maak en breek soos hulle wil nie

Casper ·

As hy krimineel aangekla word moet hy opsy staan soos Magashule.Hy moet afgedank word en hy kan nie as minister dien nie.Dit volgens Ramaphosa.

Sarel ·

2015…..2023
Agt jaar later…hoekom so lank…
Daarom sak Guptas nooit aan SA uitgelewe word nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Niks beter as ander regimes in Afrika.

Pietertjie ·

Hulle beveel nie aan dat hy bevorder moet word nie: klein faux pais!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.