Etlike haakplekke met aansoeke vir Gautengse skole

Talle ouers het Donderdag, soos in die verlede, gekla dat hulle sukkel om aanlyn aansoek te doen om plek vir gr. 1- en gr. 8-leerders in Gautengse skole.

Die proses het vanoggend om 08:00 begin en ouers het tot 25 Julie kans om aansoeke in te dien.

Die Gautengse departement van onderwys het gesê hy het Donderdag teen 12:00 reeds 104 522 suksesvolle aansoeke gehad.

Die departement sê sommige ouers het SMS’e ontvang wat hul aansoeke bevestig het, maar dat dit geen verwysingsnommer bevat het nie. Dié nommers sal volgens die departement vandag nog aan aansoekers gestuur word.

Weens die groot getal aansoeke wat ontvang is, was daar ook probleme om sommige aansoekers se adresse of ID-nommers te bevestig. Volgens die departement is dié probleme binne ʼn paar uur reggestel.

“Ons vra om verskoning aan sommige ouers wat in die eerste uur nadat die stelsel geopen is probleme ondervind het en is dankbaar dat hulle van die stelsel gebruik maak,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê talle ouers het gesukkel omdat hulle nie die eenmalige wagwoord (OTP) ontvang het nie en dus nie met die registrasieproses kon voortgaan nie.

Volgens die departement is die OTP as bykomende veiligheidsmaatreël ingestel, maar die gebruik daarvan is opgeskort nadat dit stelselprobleme veroorsaak het.

Buys het ouers wat sukkel aangeraai om aan te hou probeer om die aanlyn registrasie te doen en om ʼn e-pos aan die skool én die Gautengse onderwysdepartement daaroor te stuur.

Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by die burgerregtegroep AfriForum, sê die aanlyn registrasieproses word nou al ʼn paar jaar lank in Gauteng gebruik en dat probleme teen dié tyd al uitgestryk moes gewees het. Bloem sê die departement is deeglik bewus van die duisende ouers wat jaarliks aansoek doen om plek vir hul kinders en dat die stelsel weereens nie die hoeveelheid verkeer kon hanteer nie.

Sy het gesê eers wanneer die plasings by skole bekend gemaak word, sal daar ʼn beter aanduiding wees van die doeltreffendheid van die stelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae