Etlike haakplekke toe Gautengse skole heropen

Haakplekke is op die eerste dag van die nuwe skooljaar by verskeie skole in Gauteng aangemeld. (Foto: Verskaf)

Duisende leerders het Maandag in Gauteng vir die nuwe skooljaar aangemeld en ten spyte van ʼn langer skoolvakansie, was daar vanoggend steeds haakplekke by talle skole.

Kort voor die naweek was sowat 2 000 gr. 1- en gr. 8-leerders steeds nie by skole geplaas nie, met die Gautengse departement van onderwys wat die onderneming gegee het dat dié leerders teen die einde van volgende week plek in skole toegewys sal word. Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het Maandag gesê ʼn verklaring oor die jongste syfers sal binnekort uitgereik word.

Landwyd wag sowat 16 000 leerders nog op plasing in skole.

Khume Ramulifho, die DA se woordvoerder oor onderwys in Gauteng, sê leerders móét teen die einde van hierdie week geplaas word sodat verdere onderrigtyd nie verlore gaan nie.

Hy sê aanlyn aansoeke in Gauteng het reeds in Junie gesluit en die departement moes die tyd gebruik het om doeltreffender beplanning te doen. “Die departement het nie die data gebruik om plasings te bestuur nie. Ouers wat betyds en behoorlik aansoek gedoen het, is nie veronderstel om nou doodbekommerd te wees omdat hul kinders nog nie geplaas is nie,” het hy gesê.

Ramulifho sê die DA gaan die kwessie met die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, opneem.

“Ouers sit tuis met hul kinders en wonder wanneer en waar hulle uiteindelik geplaas gaan word.

“Ons word gebombardeer met oproepe en boodskappe van uiters bekommerde ouers,” sê hy.

By die Braamfischer Primary School in Soweto was daar nie genoeg plek vir alle leerders nie. (Foto: DA)

Ramulifho het vanoggend ʼn oorsigbesoek aan skole in Braamfischer in Soweto gebring en sê die omstandighede by veral die Braamfischer Primary School het groot kommer gewek.

Hy sê sosiale afstand is nie by die skool gehandhaaf nie. Die skool is stampvol en 15 tydelike klaskamers, geleë op die gedeelte waar permanente klasse nog gebou word, is steeds nie toeganklik nie.

Sommige klasse is oud en vervalle en van die leerders kry buite in die son onderrig omdat daar nie genoeg plek vir almal is nie.

Ramulifho sê bouwerk aan die permanente klasse het reeds in April 2017 begin en daar was onnodige vertragings in die afhandeling van die projek. “Die skoolvakansie moes gebruik word om bouwerk te voltooi en enige verdere vertraging met die opening van nuwe klasse te vermy.”

ʼn Ouer van twee leerders by die Lindelani Primary School in Soshanguve sê die eerste skooldag het ook daar chaoties begin. Die pa, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, sê alle leerders moes vanoggend aanmeld, terwyl die nodige voorbereidings om leerders te ontvang ooglopend nie getref is nie.

Die man sê hy is veral bekommerd oor die gebrek aan sosiale afstandhandhawing, maar dat dit vir hom belangrik is dat sy kinders, in onderskeidelik gr. 2 en gr. 5, steeds soveel as moontlik onderrigtyd gebruik.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê talle skole het wel sonder voorval geopen. Veral skole wat aanlyn leer nou goed in werking gestel en leerders verlede week al begin touwys maak het, het vandag goed gevaar.

“Dat dit by ʼn klomp skole goed gaan en dat die kinders bly is om terug te keer skool toe, is ook só,” het Buys gesê.

Sy sê die sentralisering van die plasingstelsel is een van die oorsake van probleme by skole.

Skole het geen mag om leerders te probeer akkommodeer nie omdat die besluit oor plasings uiteindelik by die Gautengse onderwysdepartement berus.

Buys sê ʼn soortgelyke stelsel word nou ook in die Noord-Kaap gevolg en daar wag sowat 5 000 leerders nog om geplaas te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mariana ·

Hmmm kan sien wie is in beheer on Gauteng se skole. Iemamd doen nie sy werk nie. Bepaal hom te veel by die skole wat Afrikaans is.

Debbie ·

Sit die regte mense in die posisies as jy die werk reg gedoen wil he

Pietertjie ·

Nóg ‘n probleempie is social distancing. Of die gebrek daaraan. Kyk maar hoe verskil hierdie foto’s met Menlopark s’n in ‘n ander berig.

Casper ·

Nou skitter Lesufi in sy afwesigheid omdat hy sy lang neus indruk waar dit nie hoort nie.Hy is nie opgewasse vir die pos wat hy bekleë nie.

Chris dupreez ·

Hoekom spring die eff nie op en af oor lesufi wat die leerlinge nog nie geplaas het nie, is lesufi dalk n undercover eff in die anc ?

Anel ·

Nou vra ek julle, waar lê die fout? Die blankes en ek lê klem daarop, bou ‘n UNIVERSITEIT in minder as’ n jaar! Die spul kan nie eers 15 klaskamers in 4 jaar bou nie!!! So hou gaan hulle genoeg skole gebou kry teen die jaar 2100?

SomeOne ·

lesufi is eerder gepla oor afrikaanse skole as wat hy sy plig versuim om leerders te plaas en klaskamers gebou te kry, hy kry sekerlik sy onderrig vanaf zuma

Mad Mike die Rhodesiër ·

My stiefsuster se dogter was nog nie geplaas by enige hoërskool nie veral omdat sy ‘n behoeftige kind is. My vrou het haar op die ou end by Brainline en Wolkskool geregistreer vandag. Dis ‘n nagmerrie daar buite.

Eend Bessinger ·

Ek het vandag my stiefsuster se dogter by Brainline en Wolkskool geregistreer nadat sy nog steeds nie geplaas is nie veral omdat haar ma finansiële probleme het. Veral ons wit kinders wat van skool moet verander (soos hulle wat nou met hoërskool begin), het baie probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.