Etlike hospitale nou van beurtkrag kwytgeskel

Pasiënte wag in die ongevalle-eenheid by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Tania Heyns)

Eskom het nou ’n totaal van 37 staatshospitale amptelik van beurtkrag kwytgeskel. Die departement van gesondheid sal egter weekliks met die kragvoorsiener in gesprek tree in ’n poging om al meer staatshospitale se ligte in die komende weke aan te hou.

Die departement hoop om eindelik sowat 300 staatshospitale oor die land heen van beurtkrag kwytgeskel te kry. Daar is egter in dié stadium nog geen planne om private hospitale van beurtkrag te verlos nie.

Dít omdat staatshospitale tussen 85% en 90% van die Suid-Afrikaanse bevolking moet bedien. “Dit is waar ons prioriteit lê,” het die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, Vrydagoggend tydens ’n aanlyn mediakonferensie gesê.

Die minister het vanoggend gesê volgens sy wete is daar nog geen sterftes aangemeld wat direk aan beurtkrag toegeskryf kan word nie. Die land se staatshospitale sit wel tans met ’n agterstand van meer as 170 000 elektiewe operasies weens die alewige kragonderbrekings. Dié operasies sluit knie- en heupvervangings en die verwydering van katarakte in.

Die meerderheid van Gauteng se staatshospitale, waaronder die Charlotte Maxeke-, Helen Joseph-, Steve Biko- akademiese, Mamelodi- en Bronkhorstspruit-hospitaal, is nou van die gewraakte beurtkrag kwytgeskel.

Dít omdat dié provinsie byna ’n kwart van die land se pasiëntelading moet hanteer, het Phaahla verduidelik.

Verskeie staatshospitale in die Kaapse metro en die eThekwini-distrik van KwaZulu-Natal is ook op die lys van hospitale wat nie voortaan aan beurtkrag onderwerp sal word nie. Dit sluit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad en die Harry Gwala-hospitaal in Pietermaritzburg in.

In die Vrystaat is dit net die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein wat nie oor beurtkrag hoef te bekommer nie. Geen hospitale in die Noord-Kaap of Mpumalanga word egter in dié stadium van beurtkrag kwytgeskel nie.

Die departement het wel verskeie hospitale in dié provinsies geïdentifiseer wat tans op terugvoer van Eskom wag.

Phaahla verduidelik dat hospitale gekies word op grond van hul pasiëntelanding, die spesialisdienste wat by die betrokke hospitale aangebied word en die hospitaal se tegnologiese en mediese toerusting. “Hospitale wat uiters moeilike gevalle hanteer, geniet voorkeur.”

Volgens Phaahla het die meerderheid staatshospitale kragopwekkers. Die kragopwekkers kan egter nie vir ’n lang tydperk elektrisiteit verskaf nie. Sommige van die kragopwekkers is ook oud terwyl ander nie die nodige kapasiteit het om ’n hele gesondheidsfasiliteit van krag te voorsien nie.

Die departement is nou ook in gesprek met die nasionale tesourie oor ’n moontlike begroting om beurtkraggebeurlikheidsplanne gereed te hê. Die onbegrote toename in brandstofuitgawes om die kragopwekkers aan die gang te hou en die bestuur van instandhoudingskoste maak ook deel van die gesprek uit.

Dié staatshospitale is nou kwytgeskeld:

  • Gauteng: Charlotte Maxeke-, Helen Joseph-, Steve Biko- akademiese, Mamelodi-, Bronkhorstspruit-, Dr. George Mukhari-, Pretoria Wes-, Mamelodi- en Kalafong-hospitaal, sowel as die Tshwane-distrikshospitaal.
  • KwaZulu-Natal: Harry Gwala-, Grays-, Ladysmith-, Prince Mshiyeni-, RK Khan-, Inkosi Albert Luthuli-, McCords-, King Dinizulu-, Mahatma Ghandi-, Osindindisweni-, St. Aidans-, Addington- en Clairwood- hospitaal, sowel as die Mandela-kinderhospitaal.
  • Vrystaat: Pelonomi-hospitaal.
  • Limpopo: Lebowakgomo-, Dilokong- en Mecklenburg-hospitaal.
  • Oos-Kaap: Frere-, Elliot-, Livingstone-, Port Elizabeth- en Uitenhage-hospitaal.
  • Wes-Kaap: Tygerberg- en Groote Schuur-hospitaal, sowel as die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

’n Departementele span sal onder leiding van die direkteur-generaal van gesondheid weekliks met ’n span van Eskom vergader oor die pad vorentoe. Die volgende vergadering vind eerskomende Woensdag plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Moedeloos ·

Ek wonder as die geagte minister hospitaal moet gaan of hy staatshospitaal toe gaan of na n privaat hospitaal.

Danie ·

Die ministers gaan na china ,rusland ens vir mediese behandeling.Wonder maar net oor die eintlike siekte toestand.

Phillip ·

Alle hospitale moet vrygespreek word . Dis deskrmenaasie teen private hospitale sal ek se

Anonymouse ·

Privaat hospitale maak genoeg geld uit ons om kragopwekkers te bekostig

Danie ·

Goed gedoen mr joe , in die eerste plek moes daar nooit so n probleem gewees het nie.In SA moet daar eers baie sterf voor die regering wakker skrik.

Antie Sarie ·

Nog n leun. Ek weet van n paar privaat hospitae wat kwytgeskeld is, asook die wonings in daardie lyn. Shhht. Net ietsie vanaf de media om die publiek gelukkig te probeer hou.

marius ·

Hoe pas julle dit toe ? Dit is areas wat afgesit word . Nie almal se grys stof tussen die ore is van klei gemaak nie . Tsek net !

Wildemien ·

Is reg. Die belastingbetaler, wat ook tipies aan ‘n mediese fonds behoort, sal maar meer opdok soos wat privaat hospitale hulle pryse gaan opjaag. Die privaat hospitaal se aandeelhouers sien reeds raak hoe dinge hier werk. Wet van Transvaal; kk en betaal!

Nettie ·

Die STAAT veroorsaak die probleem. Dan word die STAATShospitale vrygestel, maar nie ander. Regverdig?! ALLE hospitale en ouetehuise en klinieke moet vrygestel word!! En strate met ambasades NIE, sodat die wereld kan weet wat hier gebeur. En regeringsamptenare se kragopwekkers moet van hul salarisse verhaal word of aan hospitale gegee word.

Anel ·

Wel, as hulle al die wanbetalers se krag afsny, sal daar nie regtig nodig wees vir beurtkrag nie. Hoeveel keer is Soweto se skuld afgeskryf en hoeveel keer het hulle al beurtkrag gekry? Wonder maar sommer so by my self!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.