Etlike ure oor om 4 000 leerders te plaas

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Altesaam 4 712 gr. 1- en gr. 8-leerders in Gauteng is nog nie by skole in dié provinsie vir volgende jaar geplaas nie.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, sê hy is hoopvol dat die skoolplasing voor die einde van die dag afgehandel sal wees.

Die spertyd vir die skoolplasings is reeds met anderhalf week – van 30 November tot vandag – verleng weens sommige ouers wat nog nie die plasings vir hul kinders aanvaar het nie.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder van die departement, is daar teen 12:00 altesaam 335 091 aansoeke van gr. 1- en gr. 8-leerders ontvang. Uit dié getal aansoeke het slegs 278 029 ʼn bewys van verblyf (huisadres) ingedien en altesaam 273 317 van hierdie leerders is reeds geplaas.

“Die oorblywende 4 712 leerders wat nog nie geplaas is nie, se aansoeke word tans verwerk,” het Mabona bevestig.

Altesaam 57 062 leerders het dus nie ʼn bewys van verblyf ingedien nie. Die departement het ouers vroeër daarop gewys dat plasings nie sonder ʼn bewys van verblyf kan geskied nie.

“Dié leerders sal wel die kans gegee word om ʼn bewys van verblyf tussen 16 en 31 Desember op die departement se aanlyn stelsel te laai.”

Mabona sê terwyl elke moontlike poging aangewend word om alle leerders wat aansoek gedoen het te plaas, probeer die departement ook om genoeg klaskamers aan leerders beskikbaar te stel.

Die departement het skole in gebiede met hoë druk oor die hele provinsie geïdentifiseer vir die toekenning van geld om bykomende klaskamers te bou.

“Altesaam R240 miljoen gaan opsy gesit word om binne die volgende twee weke 229 klaskamers in laerskole en 270 klaskamers in hoërskole te bou. Altesaam 132 mobiele klaskamers sal aan bepaalde skole verskaf word om klaskamertekorte aan te vul en ruimte in skole te verbeter.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Klaskamers alleen gaan nie help nie Lesufi, jy moet skole bou , of kan jy nie, waar is die geld.

H.A.

Hulle kan net hokke bou.

Veens

Mens moet optimisme altyd waardeer. Soos om 499 klaskamers in twee weke te wil bou, vir R240M. Hou die bouers nie meer vakansie nie?

Hennie

Ek ruik kortupsie. Daai miljoene vir klaskamers is al lankal weg… Rampsie n kie het dit herl waarskeinlik gepokket!

Alfred E Neuman

Dit werk uit op om en by R481000 per klaskamer. Die kaders eet weer lekker aan ons belasting geld.