EU beskerm nou die rooibos-naam

Foto: Verskaf.

Die Europese Unie het nou die aanteken van die naam “rooibos/red bush” in sy register van beskermde oorsprongname én register van beskermde geografiese aanwysings goedgekeur.

Dié besluit is op 31 Mei 2021 in die amptelike joernaal van die Europese Unie bekendgemaak.

“Rooibos/red bush” is die eerste voedselproduk in Afrika wat nou dié status geniet.

Dié besluit beteken dat die naam “rooibos” of “red bush” slegs na die gedroogde blare van 100% suiwer rooibos, Aspalathus linearis, mag verwys, wat in bepaalde plaaslike munisipaliteite in die Noord- en Wes-Kaap gekweek of wild geoes word.

Volgens die EU se regulasies moet produkname wat as beskermde oorsprongname geregistreer is, ʼn sterk verbintenis met hul oorsprong hê. Dit beteken dat elke aspek van produksie, verwerking en voorbereiding in ʼn bepaalde gebied moet plaasvind. Dit gaan gepaard met die gebruik van toepaslike, plaaslike vaardighede en kennis.

Daarbenewens word daar vereis dat ʼn produk wat as ʼn beskermde geografiese aanwysing geregistreer is ten minste in een van die stadiums van produksie, verwerking of voorbereiding in die plek van oorsprong moet plaasvind.

Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het die aankondiging verwelkom. Hy sê rooibos is een van die mees ikoniese produkte van die Wes-Kaap, en die inskrywing daarvan in die EU se beskermde geografiese aanwysingsregister sal die eiesoortige gehalte daarvan vir verbruikers beklemtoon, nie net in Europa nie, maar ook oor die hele wêreld.

Dié registrasie sal die Suid-Afrikaanse rooibos-bedryf ook in staat stel om die EU-logo te gebruik, wat algemeen deur verbruikers in Europa herken word. Verder sal die logo die waarde van rooibos as ʼn unieke en eksklusiewe produk klassifiseer.

“Dit sal Suid-Afrikaanse rooibos-boere ook in staat stel om hul produkte beter in die EU te bemark,” sê Meyer. “Ons verwag dat die aanvraag deur bewuste verbruikers sal toeneem, wat uiteindelik weer die plase in die aangewese produksiegebied sal bevoordeel.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Rooibosraad kan ʼn mens heelwat produkte vanuit die rooibosplant maak. Buiten tee is daar ook ʼn wye verskeidenheid skoonheids- en gesondheidsprodukte wat uit hierdie besondere plant verkry word.

Dié bedryf bied inkomste en werk aan ongeveer 8 000 plaaswerkers. Daarbenewens word werkgeleenthede stroomop geskep in onder meer verwerking, verpakking en kleinhandel.

Die hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, dr. Mogale Sebopetsa, sê sy departement het sedert die negentigerjare saam met die rooibos-bedryf gewerk om te voorkom dat die naam deur ander misbruik word. “Met hierdie inskrywing kan ons nou ons erfenis vir die nageslag beskerm.

“Die besluit van die EU skep die ideale wegspringplek om die rooibos-bedryf te laat groei. Die beskerming van ons tradisies en kultuur sal beslis die kommersiële belange van dié bedryf bevorder en tot ʼn toename in produksie, uitvoere en werkgeleenthede lei,” sê Meyer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Samuel

Veelsgeluk aan die Rooibosteebedryf! Dit bly maar ‘n heerlike drankie.