De Kock hof toe oor parool

Eugene de Kock saam met familielede van een van sy slagoffers, Glenack Mama in Oktober 2014 (Foto uit eNuus-video)

Eugene de Kock saam met familielede van een van sy slagoffers, Glenack Mama in Oktober 2014 (Foto uit eNuus-video)

Eugene de Kock sal Donderdag ʼn aansoek by die hooggeregshof in Pretoria indien oor die minister van justisie en korrektiewe dienste se weiering om hom op parool vry te laat.

De Kock (65) het reeds 18 jaar tronkstraf uitgedien. Masutha het in Julie vanjaar aangekondig dat De Kock nie nou op parool vrygelaat gaan word nie aangesien die families van sy slagoffers nie daaroor geraadpleeg is nie.

Masutha het gesê daar moet in die volgende 12 maande ʼn nuwe paroolverslag en profiel vir De Kock opgestel en aan hom verskaf word.

De Kock, die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, het hom in Mei tot die hooggeregshof in Pretoria gewend om Masutha te dwing om ʼn besluit oor sy parool te neem.

Regter Thokozile Masipa het op 28 Mei beveel dat die minister 30 dae het om te besluit of De Kock op parool vrygelaat moet word. Die 30 dae het nie vakansiedae of naweke ingesluit nie.

Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het glo in November verlede jaar al ʼn besluit geneem oor De Kock se parool. Die aanbeveling is aan Sbu Ndebele, die vorige minister van korrektiewe dienste, gestuur vir oorweging.

Hy het egter nooit ʼn besluit geneem nie en De Kock moes gevolglik vroeër vanjaar die hof nader om hom te dwing om dit te doen.

Die saak is as afgehandel beskou nadat Ndebele se regsverteenwoordigers aangedui het dat hy teen 12 Mei ʼn besluit sou neem. Weer is geen besluit geneem nie en nadat Ndebele sy pos ná die verkiesing verloor het, het De Kock weer die hof genader.

De Kock het hom weens dade in die apartheidstyd die bynaam Prime Evil op die hals gehaal. Hy was ʼn polisiebeampte onder die apartheidsregering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Estelle ·

As dit nou nie is om die blanke terug te kry nie dan weet ek nie so mooi nie! die familie lede vergewe hom vir sy dade (wat onder instruksie uitgevoer is!) maar hy word parool geweier!!! die verhaal vertel presies wat die blanke beteken!!

Louis ·

Mnr. de Kock moes in die eerste plek nooit die binnekant van ‘n tronk gesien het nie. Dis ‘n skreiende onreg dat hy so sukkel om uit die tronk uit te kom! Hoeveel ander mense het amnestie gekry?!

Theresa ·

Duidelik en ooglopend – KD staan met trots op dubbele standaarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.