De Kock hoor dan oor parool

Eugene de Kock saam met familielede van een van sy slagoffers, Glenack Mama in Oktober 2014 (Foto uit eNuus-video)

Eugene de Kock saam met familielede van een van sy slagoffers, Glenack Mama in Oktober 2014 (Foto uit eNuus-video)

Eugene de Kock se regsverteenwoordiger het gesê daar is ʼn “positiewe aanduiding” dat sy kliënt in Januarie parool toegestaan sal word nadat daar ʼn ooreenkoms in die hooggeregshof in Pretoria bereik is.

“Ek dink dit is baie positief en ʼn positiewe aanduiding dat hy parool sal kry wanneer die minister voor of op 31 Januarie finaal besluit,” het Julian Knight aan verslaggewers buite die hof gesê.

Volgens die ooreenkoms sal De Kock in Desember hoor of die nasionale raad vir korrektiewe dienste gaan aanbeveel dat hy op parool vrygelaat word. Die raad het tot 19 Desember tyd om ʼn aanbeveling te maak. Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het dan tot 31 Januarie om finaal ʼn besluit te neem.

“Ek dink dit is goeie vordering. Dit is ʼn situasie waar albei partye kry wat hulle wil hê,” het Knight gesê. Volgens Knight het daar sedert Augustus ʼn sogenaamde slagoffer-oortreder-dialoogprogram plaasgevind.

Regter Letty Molopa-Sethosa het die ooreenkoms ʼn bevel van die hof gemaak. Daar is ook ʼn soortgelyke ooreenkoms bereik vir die apartheidsmisdadiger Ferdi Barnard. Hy is 1999 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op David Webster.

Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het, soos in die geval met De Kock, tot 19 Desember tyd om ʼn aanbeveling te maak oor of Barnard op parool vrygelaat moet word. Minister Masutha moet ook teen 31 Januarie ʼn besluit neem of Barnard parool moet kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.