Eugene de Kock kry parool

Eugene de Kock Foto: OFM

Eugene de Kock Foto: OFM

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Vrydag aangekondig dat die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock op parool vrygelaat gaan word.

Die aankondiging kom ʼn dag nadat De Kock sy 66ste verjaarsdag gevier het. De Kock is al vir langer as twee dekades agter tralies nadat hy in 1994 in hegtenis geneem is en twee jaar later in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis is. Hy dien twee keer lewenslange tronkstraf uit nadat hy skuldig bevind is aan ses moorde, asook 212 jaar tronkstraf vir ander misdade.

De Kock het in 1997 en 1998 die land laat regop sit met sy getuienis by die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK). Hy het onder meer getuig oor die ontvoering, marteling en moord op anti-apartheidsaktiviste by Vlakplaas. De Kock het na die WVK-verhore amnestie gekry vir sommige van die misdade.

De Kock, ʼn voormalige polisiekolonel, het ander lede van die apartheidveiligheidsinstellings daarvan beskuldig dat hulle nie “die ruggraat het om op te staan en verantwoordelikheid te neem nie”.

Vlakplaas, waar De Kock in 1985 as hoof van die polisie se berugte C10-eenheid oorgeneem het, was buite Pretoria geleë. Die eenheid het ten doel gehad om die anti-apartheidsbeweging te onderdruk.

De Kock, die seun van ʼn landdros, is op 29 Januarie 1949 in George gebore. Hy het later by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit en is in die laat 1970’s na Rhodesië, waar ‘n bloedige bosoorlog gewoed het, ontplooi. Hy het later by die berugte Koevoet- paramilitêre eenheid in die destydse Suidwes-Afrika aangesluit.

De Kock het in 1983 by Vlakplaas begin werk en is twee jaar later as bevelvoerder aangewys. Hy is in 1996 twee keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die moorde op Japie Kereng Maponya en die sogenaamde Nelspruit-vyf. Hy is tot ʼn verdere 212 jaar tronkstraf gevonnis vir sameswering om moord te pleeg, strafbare manslag, ontvoering, aanranding en bedrog.

De Kock is in Junie verlede jaar parool geweier en minister Masutha het gesê daar moet in die volgende 12 maande ʼn nuwe paroolverslag en profiel vir De Kock opgestel en aan hom verskaf word. De Kock se regsverteenwoordigers het die hooggeregshof in Pretoria genader en daar is gelas dat die nasionale raad vir korrektiewe dienste teen 19 Desember ʼn aanbeveling moes maak oor of De Kock op parool vrygelaat moet word. Masutha is tot 31 Januarie gegee om ʼn finale besluit te neem.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Eugene de Kock.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willie ·

Ek wag in spanning vir ‘n boek uit die pen van Eugene de Kock. Ek gaan my verlustig aan die kan wurms wat dalk oopgemaak mag word. As daar so iets in die vooruitsig is, wil ek vir die heer vra om nie terug te hou nie.

Heinrich Viljoen ·

dis tyd dat die senior lede wat ruggraatloos is en was en Gene vir die wolwe gegooi het, begin sweet.
Julle weet wie jul is…

Oppies ·

Ek wonder darem hoe Kol Eugene se verraaiers moet voel nadat hy vry gelaat is! Hoe pateties kan dit nie wees dat jy jou eie gat wil red nie maar jy was self betrokke gewees nie! Maar soos hulle sê what goes around comes around!! Sterkte en Voorspoed voorentoe my maat!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.