Europeër raap historiese wynplaas vir R52 miljoen op

Morgenhof-wynlandgoed. (Foto: Facebook)

Een van Suid-Afrika se oudste wynplase, Morgenhof-wynlandgoed in Stellenbosch, is Woensdag vir R52,25 miljoen op ʼn veiling verkoop.

Meer as 2,4 miljoen mense van oor die wêreld het aanlyn ingeskakel om te sien hoe dié 329 jaar oue plaas aan die hange van die Simonsberg opgeveil word. Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat dié historiese plaas op ʼn veiling beland.

Die veiling is regstreeks én aanlyn aangebied deur High Street Auctions, in samewerking met die Amerikaanse veilingsmaatskappy Tranzon, wat verteenwoordigers oor die hele Verenigde State het. Potensiële kopers kon aanlyn of telefonies bie.

Volgens Joff van Reenen, direkteur en hoofafslaer van High Street Auctions, is die wynplaas aan ʼn Europeër verkoop, wat telefonies gebie het. Geen verdere inligting oor dié persoon is in hierdie stadium bekend nie.

“Die verkope is onderhewig aan ʼn bevestigingstydperk van 14 dae,” sê Van Reenen.

Volgens Van Reenen was die reaksie op die veiling verstommend.

Morgenhof uit die lug (Foto: Verskaf)

“Dit was die grootste Suid-Afrikaanse veilingsveldtog wat nog ooit plaasgevind het. Meer as 2,4 miljoen mense van 15 verskillende lande het aanlyn gekyk.”

Morgenhof is deur Anne Cointreau opgeveil. Sy het die plaas 30 jaar gelede gekoop. Die bekende Cointreau-familie vervaardig sedert 1272 wyn, sjampanje en spiritualieë in Frankryk. Cointreau se oupagrootjie, Adolphe, is bekend vir sy skepping van die beroemde oranje likeur wat die familienaam dra en sy seun vervaardig die luukse konjak, Remy Martin.

“Ná drie dekades se bydrae tot 750 jaar lange wingerdbou-ervaring aan hierdie landgoed, gee Cointreau nou die leisels oor. Sy wil sien dat die nalatenskap nog drie eeue lank voortduur.”

Cointreau beplan om in Frankryk te gaan aftree en die lewe saam met haar gesin te geniet.

Maroela Media het vroeër berig die landgoed is ʼn baanbreker in Suid-Afrikaanse wingerdbou. Die geskiedenis van dié historiese wynmakery dateer van 1692, tot by die Franse Hugenote.

Die Morgenhof-wingerde word droëland verbou, wat laer opbrengste tot gevolg het, maar dit beteken beter sapkonsentrasies in die druiwekorrels. Die landgoed bestaan uit ʼn verskeidenheid grondsoorte, en die terroir word verder aangevul deur hoogtes wat wissel van 40 m tot 400 m bo seespieël.

Morgenhof se wynportefeulje bestaan uit ʼn mengsel van rooi en wit. Die witwyne wissel van sauvignon blanc tot chenin blanc. Die rooiwynreeks bied ʼn verskeidenheid ikoniese enkelvariëteite, waaronder ʼn merlot en ʼn pinotage, asook ʼn versnit in bordeaux-styl wat ook die vlagskip van die Morgenhof-reeks is.

Volgens Van Reenen is dit ʼn gevestigde en goed gediversifiseerde onderneming met verskeie ander inkomstestrome. Dit bied boonop baie potensiaal om verder uit te brei en is ideaal vir ʼn nuwe eienaar met ʼn groot visie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Esme ·

Baie geluk. ‘n Winskopie vir ‘n wynplaas van daardie formaat.

Swerwer ·

Baie geluk aan die Europeër wat nog kans gesien het om in hierdie wankelende land te belê.
Vertrou dat hy die plaas sal bewaar en verder opbou.

JohanR ·

R52 miljoen teen £20.51c =£2535349. R52 miljoen teen €17.57 = €2959591. Kom ons doen maar die Amerikaner dollar ook…..R52 miljoen teen $14.92 = $3485255. Vir iemand van Amerika, Britanje of Europa is dit ‘n bargain! Daar in New York of Miami kos ‘n dakwoonstel jou sommer $3 miljoen. Verbaas ou Cyril of Ace of enige vet ANC minister, het nie ‘n bul, ‘n melk plaas, of ‘n paar varke verkoop en die plaas gekoop nie?

Harley Davidson ·

Ek dink die Botswana pula is ook sterker as die rand.

Niklaas ·

Ek het meer verwag. Vir buitelanders is dit een winskopie.

Elize ·

Ons hoop net Cyril en Kopdoek hou hulle uit die wynplase met al die beperkings.

Misky ·

Daai ou waag baie in ag geneem wat die ANC en EFF beplan in die nabye toekoms met grond in ons mooie SA

JohanR ·

Maar NDZ ek het dan ‘n paar maande terug R52 miljoen vir die plaas betaal. Gee nie om Mnr du Vries, ons vat dit sonder vergoeding. Ons gaan dit vir die kaders gee om op te mors!

Frederik C ·

Wag totdat die Europeër verneem dat hy die helfte van sy plaas aan ‘n BEE man moet skenk. Dan is dit geen winskoop nie, ongeag die geldeenheid.

jou gewete ·

danksy die anc se verwoesting van ons geld eenheid en ekonomie koop hy dit met n paar Euro vir minder as wat n huis in Kaap kos in rand, skreiende skande vir die sg regering

Barney ·

Soos dinge staan met die anc het die ou sy geld gemors. Hulle gaan sy plaas onder boude uit wegvat ????

Christine ·

Wonder of hierdie plaas ook onder die swaard van Onteiening sonder Vergoeding sal val?

Jo ·

Baie mooi plaas vir R54.25 miljoen. Goedkoper as zoempie se pondokkie van R260 miljoen

Danie ·

Dis nou n slim manier om $3.5M aan die korupte anc regering te skenk.
En dan word die koop ook so wyd en syd verkondig dat die eff dit moet raaksien.
Mooi man

Hannes ·

Dit is ‘n jammerte dat die plaas in die hande van buitelanders beland het. Waar is die mense in die omgewing wat’ n konsortium kon vorm en die plek gekoop het? Seker makliker gesê as gedaan. Nou is daar geleentheid geskep vir Malema om sy hande daarop te lê en al die harde werk van al die jare is daarmee heen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.