Europese menseregtehof moet finale besluit oor Semenya neem

Caster Semenya (Foto: Fabien Dubessay/AFP)

Die Europese menseregtehof in Straatsburg, Frankryk, begin Woensdag met ’n verhoor waartydens daar beslis moet word of daar van Caster Semenya vereis kan word om haar testosteroonvlakke te verlaag om mee te ding.

Hierdie hof se uitsprake is bindend.

“Hierdie uitspraak gaan geskiedkundig wees, want dit raak aan die outonomie van sportorganisasies om toegang tot hul kompetisies te reguleer, met in agneming van respek vir menseregte,” sê Antoine Duval, ’n spesialis in sportreg by die Asser-instituut in Den Haag.

“My hoop is dat Wêreldatletiek, en inderdaad alle sportorganisasies, die Europese menseregtehof se beslissing in ag sal neem en verseker dat die waardigheid en menseregte van atlete gerespekteer word,” het Semenya in aanloop tot die verhoor gesê.

Die dubbele Olimpiese kampioen is vermoedelik reeds in Straatsburg om haar saak te stel.

Semenya het egter Vrydag op ’n mediakonferensie in Johannesburg vir finansiële hulp gevra in aanloop tot die verhoor.

“Ons kort geld. Ons het baie kundiges wat inkom wat ons moet betaal,” het Semenya verlede week op die mediakonferensie gesê.

Die 33-jarige Suid-Afrikaanse atleet het verlede Julie ʼn lang regstryd in Switserland se hooggeregshof gewen toe dié hof beslis het dat Semenya die slagoffer van diskriminasie is.

Maroela Media het vroeër berig Semenya het as deel van dié saak die kwessie betwis of haar regte geskend is wat betref ʼn vereiste dat vroue met hoë testosteroonvlakke verplig word om dié vlakke met die gebruik van medikasie te verlaag.

Die driemalige wêreldkampioen in middelafstand-wedlope word as ʼn DSD-atleet, dus ʼn atleet met “verskille in seksuele ontwikkeling”, geklassifiseer.

Sedert Wêreldatletiek se beheerliggaam in 2018 reëls ingestel het dat vroue met hoë testosteroonvlakke verplig word om dié vlakke met die gebruik van medikasie te verlaag, het Semenya geweier om dit te doen.

As gevolg hiervan is sy verbied om aan die 800 m-item deel te neem.

In haar lang regstryd het Semenya ʼn appèl in die sportarbitrasiehof verloor en drie jaar gelede het Switserland se hooggeregshof die beslissing bekragtig. Semenya het daarna haar saak teen Switserland se hooggeregshof na die Europese hof vir menseregte geneem, en die appèlsaak gewen.

Switserse owerhede, gesteun deur Wêreldatletiek, het ná die uitspraak aangekondig dat hulle hul saak na dieselfde menseregtehof sal neem.

Semenya het onder meer Olimpiese goud by die Londen Spele in 2012 en weer in Rio in 2016 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.