Evolusie in kankerbehandeling danksy robotika

Coetzee het al ‘n duisend prosedures met behulp van robotika uitgevoer. (Foto: Verskaf)

Dr. Lance Coetzee, die eerste uroloog in Suid-Afrika wat ʼn duisend prosedures met behulp van robotika uitgevoer het, sê dié soort tegnologie veroorsaak ʼn omwenteling in kankerbehandeling en help om meer lewens te red.

“Die masjiene wat gebruik word om op kankerpasiënte te opereer word al hoe kleiner en slanker gemaak. Weens die akkuraatheid van dié tegnologie is minder lewensverliese ook intussen aangeteken.”

Coetzee, ʼn chirurg by die Urologie-hospitaal in Pretoria, het die eerste robotika-stelsel in Afrika in 2013 ontvang. Sedertdien werk hy oortyd om pasiënte met nier-, prostaat-, testikulêre en blaaskanker met dié tegnologie te behandel.

Hy het onlangs ʼn duisend prosedures, waaronder die verwydering van kankeragtige prostate en gedeeltelike nierverwydering, met behulp van die tegnologie uitgevoer.

Dr. Lance Coetzee van die Urologie-hospitaal in Pretoria. (Foto: Verskaf)

“Die gebruik van robotika om prosedures uit te voer word wêreldwyd meer algemeen gebruik. Dit is nie so indringend soos tradisionele operasies nie, dit verminder die kanse dat ʼn pasiënt enige komplikasies ná die prosedure kan ontwikkel weens infeksie om die wond en pasiënte se hersteltyd is sowat 10 dae, nie meer weke nie,” sê Coetzee.

Volgens dié wêreldbekende chirurg is pasiënte meer geneig om prostaatprobleme te ontwikkel nadat daar op die tradisionele wyse op hul prostaat geopereer is. Deur gebruik te maak van dié gevorderde toerusting word sowat 80% van die prostaat se funksie egter behou. Dít teenoor die 40% wat tradisionele operasies verseker.

“Ons betree nou die vierde generasie robotte wat makliker hanteerbaar en meer akkuraat tydens prosedures is. Ons hoop om in die nie so verre toekoms nie een van hierdie opgegradeerde masjiene vir die urologie-hospitaal aan te skaf.”

Coetzee is een van net ʼn handvol Suid-Afrikaanse dokters wat geregistreer is om ander uroloë in Suid-Afrika in robotchirurgie op te lei. Hy is ook ʼn geregistreerde dokter en spesialis in Brittanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Dit is goeie nuus. Ek wonder hoeveel mediese fondse sal daarvoor betaal?

Tia ·

Dr Lance het my man se prostaat in 2018 met hierdie metode verwyder.Die trauma en bloedverlies is minimaal.Momentum Health het alles 100% betaal.Ons sal dit absoluut aanbeveel teenoor die 30-jaar-oue behandeling van chemo-balletjies inplant,wat sòveel newe-effekte kan hê.

RSAR ·

Ek het onlang ‘n prostatektomie ondergaan met die Da Vinci robot. Mediese fonds het byna R170k betaal, my bydrae was omtrent R13k.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.