Ex-Dineo: Dodetal styg in Mosambiek

Satellietfoto.

Satellietfoto.

Die dodetal in Mosambiek het tot sewe gestyg nadat die tropiese storm Ex-Dineo oor die land beweeg het.

Daar is aanvanklik berig dat twee mense dood is. Honderde geboue en huise is intussen ook erg beskadig. Ex-Dineo is intussen van ʼn tropiese depressie na ʼn laedrukstelsel afgegradeer.

Kevin Rae, hoofweervoorspeller by die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD), het gesê Dineo staan nou as “Ex-Dineo” bekend omdat dit na die binneland beweeg het.

Elsa de Jager, bestuurder van klimaatinligting by die SAWD, het aan Maroela Media verduidelik dat Ex-Dineo nie meer op die SAWD se sinoptiese kaarte aangedui word nie en dus net as ʼn laedrukstelsel beskou word.

“Die stelsel verswak steeds en is besig om in ʼn westelike rigting te beweeg, maar die invloed van onder meer sterk winde en swaar reënval sal steeds gevoel word,” het De Jager gesê. “’n Tropiese sikloon (of tropiese storm) word gewoonlik afgesny van die bron waarvan sy energie afkomstig is (die warm see-oppervlak) wanneer dit oor ’n landoppervlak beweeg.”

Rae het gesê dat daar vroeër vandeesweek winde van meer as 100 km/h in Inhambane in Mosambiek gewaai het. “Ons satelliet-gedrewe raaiskoot dui aan dat daar tussen 100-200 mm reën kon val tussen Woensdag en Donderdag.”

Rae het ook gesê dat inwoners waaksaam moet wees vir Ex-Dineo vir die volgende 36 uur omdat daar swaar reënval en gevolglik vloede kan voorkom.

Daar het gister 166 mm reën in die Graskop-gebied in Mpumalanga geval. Barberton in Mpumalanga het 49 mm gekry en Mbombela 40 mm.

Die swaarste reën vir Limpopo is in die Tzaneen-Westfalia Estate gemeet op 34 mm. In Pongola in KwaZulu-Natal is 36 mm gemeet.

Rae waarsku dat swaar reën Vrydagmiddag in die westelike dele van Limpopo sowel as die noorde van Botswana kan voorkom.

Rae het ook gewaarsku dat die Limpopo- en Olifantsrivier moontlik in vloed kan wees.

Intussen het die SAWD wenke gegee vir slagoffers van die gevolglike vloede:

  • 66% van vloedverwante sterftes gebeur in motors wanneer bestuurders dink hulle kan deur diep water ry.
  • Moenie vloedwater drink nie, dit kan besmet wees.
  • Moenie naby kragkabels kom ná ʼn vloed nie, dit kan nog lewensgevaarlik wees.
  • Skakel ook jou elektrisiteit af gedurende ʼn vloed.
  • Berg skoon kos en drinkwater veilig.

Ná ʼn vloed:

  • Luister na mediaberigte om te hoor of die water veilig is om te drink.
  • Vermy vloedwater ten alle koste, dit kan besmet wees met riool, olie, petrol, ens.
  • Vermy bewegende water.
  • Ontsmet alle items wat nat geword het tydens die vloed, die modder van die vloed kan besmet wees met chemikalieë en riool.

Die Suid-Afrikaanse nooddienste is waaksaam en hou die pad wat Ex-Dineo volg fyn dop. Die departement van samewerkende regering het gesê hulle is bemoedig deur die belofte van ander provinsies soos Gauteng, die Vrystaat en Noordwes om hulp te verleen in die provinsies wat die ergste geraak word soos die situasie dit vereis.

Die SAWD monitor die situasie deurentyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Uiteindelik berig Maroela iets oor die sikloon. Geluk Maroela, julle het wakker geskrik!

Nog inligting ·

‘n Sterk stroom water van 60 cm diep kan jou kar laat begin dryf en meesleur.
So ook kan 150 mm diep water wat sterk vloei jou voete onder jou uitslaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.