Ezemvelo: Leeus ontsnap, stropers stap in oor stukkende heining

‘n Foto van ‘n leeuwyfie in ‘n boom by Hluhluwe-iMfolozi Park in KwaZulu-Natal (Foto: Facebook/Rhys Scott-Dawkins)

Nuwe wetgewing in KwaZulu-Natal moet dringend ter tafel gelê word om die voortslepende leeu-ontsnappings en die vlaag stroperyvoorvalle in die Hluhluwe-iMfolozi Park (HIP) – onder die bestuur van Ezemvelo KZN Wildlife (EKZNW) – te pak.

EKZNW is ʼn regeringsorganisasie getaak met die instandhouding van 57 wildbewaringsgebiede in die provinsie, ʼn taak waarin die organisasie volgens die DA klaaglik misluk.

Heinz de Boer, die DA se woordvoerder oor ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in KwaZulu-Natal, sê die algehele verval van die meeste Ezemvelo-fasiliteite kan nie meer geduld word nie.

“Die nuwe bewaringswetsontwerp, wat reeds minstens vier jaar agter skedule is, sal nie net die verouderde Natuurbewaringsordonnansie van 1974 vervang nie, maar hopelik ook vennootskappe tussen die staat en die private sektor skep om EKZNW te versterk.

“ʼn Antwoord op parlementêre vrae van die DA het onlangs aan die lig gebring dat die slimheining wat vroeër vanjaar by die Hluhluwe-iMfolozi Park opgerig is – om die beskerming van die Groot Vyf in die natuurreservaat te verseker en moontlike konflik tussen mens en dier te vermy – in werklikheid deur ʼn nieregeringsorganisasie (NRO) opgerig is en nie deur EKZNW nie.

“Boonop maak Ezemvelo sedert 2020 op stukkende heinings staat om diere binne en stropers buite te hou, met geen nuwe kontrakte om die heining te herstel nie.

“EKZNW beweer dat nie ʼn kilometer van die 160 km-grens nié omhein is nie; tog het talle bronne die westelike dele van die Hluhluwe-iMfolozi Park as onbeveilig beskryf.

“Intussen het die R40 miljoen vir omheining – wat die nasionale regering aan Ezemvelo bewillig het – ook nog geen resultate getoon nie.”

De Boer sê hulle het simpatie met Ezemvelo se veldwagters en grondpersoneel wat hul lewe in gevaar stel in die voortdurende stryd teen stropers.

“Ondanks die uitdagings is daar min politieke wil van KwaZulu-Natal se ANC-beheerde regering om wetgewing deur te voer, begrotings aan te wend, bestuurders tot verantwoording te bring en hierdie kritieke entiteit op standaard te kry.

“Siboniso Duma, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (EDTEA), en die voormalige LUR, nou premier Nomusa Dube-Ncube, behoort hul koppe in skaamte te laat sak oor die hele Ezemvelo-debakel.

“Dit is die mandaat van hierdie departement om die beskerming en voortbestaan ​​van KZN se natuurlike erfenis te verseker – ʼn taak waarvoor hulle duidelik nie opgewasse is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert ·

Die probleem lyk so:
Veg vir instandhouding – DA
Veg teen stropery – DA
Stropers – ANC

Martie ·

Kwazulu Natal is ‘n vervalle provinsie. Ons het jare gelede daar vir ‘n hele klompie jare gewoon en die provinsie van hoek tot kant deurkruis. In 2017 het ons daar gaan vakansie hou en dit was verskriklik om te sien hoe alles verval het . My kinders is in Kokstad en Eshowe gebore , ek het amper nie die dorpe herken nie. Vallei van duisend heuwels is nou = Vallei van miljoene schacks.

Hasie ·

Alles gaan om geld te bekom wat dan in die sakke van korrupsie te beland .Dit betaal die paaiemente van luukse voertuie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.