F1-legende Niki Lauda sterf

Die legendariese renjaer Niki Lauda (70). (Foto: Facebook)

Die driemalige Formule 1-wêreldkampioen Niki Lauda is dood in die ouderdom van 70.

Die BBC berig Lauda het nege maande gelede ʼn longoorplanting ondergaan.

Die legendariese Oostenryker het in 1975 die titel vir Ferrari verower en het dit in 1977 en 1984 ook vir McLaren gedoen.

Die BBC berig Lauda word waarskynlik die beste onthou vir sy verstommende herstel en terugkeer tot die sport nadat hy tydens ʼn ongeluk in 1976 by die Duitse Grand Prix sleg verbrand het.

Lauda het volgens sy familie Maandag “vreedsaam gesterf”.

Ná sy loopbaan as renjaer was Lauda ook ʼn lugredery-entrepreneur, maar meer onlangs het hy ʼn nie-uitvoerende voorsitter van Mercedes se Formule 1-span geword. Hy het ook ʼn groot rol gespeel om te verseker die Britse jaer Lewis Hamilton sluit by die span aan. Hamilton het reeds vyf wêreldkampioenskappe gewen.

Lauda se “sonderlinge prestasies as ʼn atleet en entrepreneur is en sal onvergeetlik bly. Sy onblusbare lus vir aksie, sy reguit manier en sy dapperheid bly ʼn voorbeeld en ʼn standaard vir ons almal,” het ʼn verklaring van sy familie gelui.

In Augustus 1976, slegs ʼn jaar nadat Lauda sy eerste titel ingepalm het, het hy derdegraadse brandwonde aan sy kop en gesig opgedoen en giftige gasse ingeasem en sy longe beskadig nadat sy motor by Nürburgring in vlamme opgegaan het.

In die hospitaal is gevrees dat hy op sy sterfbed is, maar Lauda het wonderbaarlik herstel en was 40 dae later, nog in verbande, weer terug op die renbaan, berig BBC.

Die voormalige Britse F1-kampioen Jenson Button het Lauda ʼn “legende” genoem, terwyl McLaren gesê het Lauda sal in die geskiedenis opgeneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swartwolf ·

Hartseer dag vir sport oor die hele wereld heen. Hy het die hart van ‘n leeu gehad. Kampioen en die voorbeeld van professionaliteit.

Chris Ws ·

Beslis ‘n legende en iemand wat nooit vergeet sal word nie.Sy bydrae aan F1 en motorsport sal voortleef.

Griet ·

Sou dit nie wonderlik gewees het, as planeet aarde,nou méér sulke fenominale mense,kón hê nie…
RUS IN VREDE Niki…jou nalatenskap vir motorsport en die mensdom sal bly voortleef….?

Ben Prinsloo ·

Ons sal jou mis. Die wereld en veral motorsport sal jou mis. Jy was uitstaande in n gevaarlike tyd van F1 motorsport. Jou littekens is n bewys daarvan. RIV.

Boerboel ·

Rus in vrede Niki. F1 het n’ groot man verloor. Jy was n’ yster!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.