Faan se Trein volstoom in sy eerste naweek by loket

Die rolprent Faan se Trein het groot sukses by die loket behaal tydens die openingsnaweek

Die rolprent Faan se Trein het tydens die openingsnaweek groot sukses by die loket behaal. Foto: Faan se Trein Film Facebook-blad

ʼn Lokprent en video van Faan se Trein volg onderaan die berig.

Die nuwe Afrikaanse rolprent Faan se Trein het in sy openingsnaweek reeds R1.4 miljoen by die loket verdien, aldus Ster Kinekor Entertainment.  Ander Afrikaanse rolprente soos Roepman en Die Wonderwerker het ongeveer R483 176 en R733 391 onderskeidelik in hulle openingsnaweek verdien. Die rolprent is gebaseer op die immergewilde verhoogstuk wat vir meer as 35 jaar lank op die planke was. Volgens Ster Kinekor Entertainment  het ongeveer 32 000 mense die afgelope naweek ‘n draai by die teaters gaan maak om dit op die grootskerm te sien.

Die rolprent het die beste gedoen van alle nuwe uitreikings die naweek en het selfs beter gedoen as internasionale rolprente soos The Book Thief.  Op die top 10-lys lê Faan se Trein tweede, met The Wolf of Wall Street in die eerste plek.

Die vervaardiger Helena Spring sê sy is verheug oor Faan se Trein se prestasie by die loket “Dit is werklik ‘n universele storie en ek glo dit is hoekom die gehore die film ondersteun,” sê Spring.

Faan se Trein speel af op ʼn klein dorpie in die Karoo in die 1950’s en Willie Esterhuizen wat die rol van Faan vertolk, beskryf die karakter as “ ʼn sewejarige brein in ʼn vyftigjarige man se lyf.” Die dorpsmense is egter verdeeld oor Faan: sommige voel dat hy ʼn gevaar vir die gemeenskap inhou terwyl ander sê dat hy totaal onskuldig is.

Faan se Trein het nege toekennings by verlede jaar se Silwerskermfees losgeslaan, waaronder die toekennings vir beste film, beste akteur (Willie Esterhuizen) en beste vroulike byspeler (Anel Alexander).

Maroela Media het ook verlede week ʼn draai by die première van Faan se Trein gaan maak waar om met die akteurs te gesels en vir ʼn paar bekendes te vra wat hulle van die film dink.

Faan se trein is tans by teaters landswyd te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.