Facebook onttrek hom aan parlementsgesprek

Die komitee wou onder meer met Facebook oor waninligting op sosiale media praat. (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

Die sosialemediareus Facebook het hom onttrek aan ’n parlementsgesprek oor waninligting en kwessies wat met die digitale transformasie in Suid-Afrika verband hou.

Maroela Media het berig dat die vergadering, wat deur die kommunikasie- en digitaletegnologieë-komitee georganiseer is, vir 25 Mei beplan is en dat Suid-Afrika een van die eerste lande is wat suksesvol met Facebook ’n vergadering kon belê.

Boyce Maneli, voorsitter van die parlement se kommunikasiekomitee, sê dat hulle teleurgesteld is in dié besluit.

Hy sê die aangeleentheid is bloot ’n gesprek en dat dit nie vir ’n parlementêre ondersoek aangesien moet word nie.

“Ons is uiters teleurgesteld dat Facebook hom aan die ontmoeting onttrek het, maar is opgewonde oor die vergadering wat voorlê.

“Ons sal voortgaan om oor verskeie onderwerpe in dié sektor te vergader om sodoende die komitee te versterk en te verseker dat sosialemediaplatforms die nodige voorsorgmaatreëls tref om gebruikers se regte te beskerm en teen waninligting te waak.”

Phumzile van Damme, voormalige DA-LP, het vroeër gesê die komitee sou ook met Facebook praat oor die beskerming van private data van Suid-Afrikaanse gebruikers op platforms wat Facebook besit.

Die komitee sal steeds volgende week met GoogleSA oor dié onderwerp vergader. ’n Soortgelyke uitnodiging is ook aan Twitter gestuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Hulle wil alles beheer. Ons kan net sowel in n kommunisiese land bly

Karina ·

Ek het geweet Facebook gaan nie die ‘vergadering’ bywoon nie. Stem saam met Chris, hulle wil alles beheer.

Klipkop ·

Die wêreld se grootste skurke en boelies maak en breek al weer soos hulle wil. Gelukkig is ek nie deel van hierdie lewensgevaarlike sosiale parasiete wat mense se lewens beheer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.