Facebook-plasing oor vermiste student ‘wolhaarstorie’

Marie Ostbo. Foto: Verskaf

ʼn Plasing wat op Facebook die ronde doen oor die vermiste Noorweegse student Marie Ostbo (21) is volgens die polisie ʼn “wolhaarstorie”.

Die plasing lui dat Ostbo tussen Migdol en Delareyville in Noordwes gesien is. Volgens kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, is die bewering egter ongegrond. “Daar is niks konkreets wat ons in die verband kan opvolg nie. Indien mense dink hulle het Ostbo gesien, moet hulle asseblief hul naaste polisiekantoor verwittig.”

Ostbo het op 18 April verdwyn terwyl sy saam met ʼn buitelandse studentetoergroep in Sedgefield in die Wes-Kaap vertoef het. Sy het volgens die polisie net ná 18:00 saam met die groep op die strand gaan stap. Sommige studente het Ostbo glo net voor 19:00 laas op die strand, sowat 100 m van waar die groep tuisgaan, opgemerk. Sy was geklee in ʼn paar blou jeans en ʼn wit T-hemp.

Die polisie het haar selfoon, ʼn hoed en skoene op die strand gevind in die omgewing waar sy vermis geraak het. ʼn Uitgebreide soektog het egter nog geen teken van Ostbo opgelewer nie.

Volgens Pojie is die soektog intussen tot groot mate afgeskaal. “Daar vind nog periodieke soektogte plaas, maar in dié stadium is daar geen nuwe leidrade of enigiets positief nie. Ons kan mense bloot vra om op die uitkyk te wees. Ons bly hoopvol.”

Marie en haar pa, Atle. Foto: Facebook

Atle Ostbo, Marie se pa, het vroeër gesê hy vermoed sy dogter is aangeval aangesien sy nie haar besittings op die strand sou los en met haar nuwe kamera sou gaan swem nie. Atle is egter steeds hoopvol dat sy dogter gevind sal word.

“Almagtige God, bring ons Marie terug. Ek smeek dat jy die oë van diegene wat na haar soek, sal oopmaak. Help die Suid-Afrikaanse soekpersoneel om Marie te vind. Ek dank U dat U ons hoor wanneer ons bid, amen,” het hy Sondag op Facebook geskryf.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die betrokke owerhede is intussen in verbinding met Ostbo se familie in die buiteland en word bygestaan deur die polisie, die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, die Noorweegse ambassade en die departement van toerisme.

Mense met meer inligting wat kan lei tot Ostbo se opsporing word versoek om hul naaste polisiekantoor of die Sedgefield-polisie by 044 343 1321 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

marianna ·

Mnr. Ostbo julle noorweërs dink mos alles gaan goed in SA want julle help die anc.
Het 2 besoekers hier in SA gehad en ek het hulle goed ingelig hoe dit werklik hier gaan.
Hulle oë het omtrent gerek toe hulle al die gemors in die strate en omgewing gesien het.
Hulle mooi vertel hoe teen die witmense gediskrimineer word.

RHG ·

Sjoe, Marianna, is daar bewyse dat hier ‘n misdaad gepleeg is?
Ek kan nie dink hoe ‘n ouer moet voel as ‘n kind verdwyn nie. Om nie te weet nie is ondraaglik.
Laat ons bid dat sy gevind word. Selfs as die vonds nie positief is nie, kan daar berusting kom.

Lana ·

Marianna, dit wat jy sê is alles waar, maar gee kans ons help eers die mense soek na hul kind.
Op die oomblik is dit belangriker as al die gemors wat hier aangaan. Sal hulle wel later inlig.

Valerie ·

Wow, jy veralgemeen erg, en om te dink hulle verstaan nie eers jou taal nie.

Hannes ·

Kaptein Potjie, het julle die leidraad opgevolg of het julle sommer besluit dis bog? Mens volg leidrade op, dis wat die polisie moet doen.

kas ·

Selfoon hoed en skoene op die plek waar sy vermis geraak het gevindSy en haar kamera is weg.Sou aanvallers nie haar besittings ook verwyder het nie veral die selfoon.Honderd meter van die plek waar hulle gebly het.Hoekom was sy alleen op die strand.Die ander het haar op die strand gesien maar geen vreemde persone nie.Sy is dalk ontvoer,verkrag, vermoor en op ‘n ander plek gaan begrawe.Enige iets is moontlik maar wat my pla is dat niemand iets gesien het nie.Wat sou sy in Noordwes gaan maak het of het sy weggeloop saam met iemand .Dit klink nie moontlik nie sonder om iemand in te lig.Dit is baie raaiselagtig.

Suidkaapenaar ·

Haar nuwe kamera is in haar kamer gevind. Sy het dit nie by haar gehad nie.

Sinies ·

Dit is baie hartseer en raaiselagtig, ek hoop opreg sy word veilig gevind.
.
Dit is ook so dat Nordiese lande groot finansiers van geweld in 80s en 90s was.
Daarom is dit nodig om op geleë tye die bevolking van hierdie lande bewus te maak van die uitkoms van hul politieke keuses.

Tasman ·

Swede het ons geboikot en verneder sover hulle kan. Hulle verstaan nie van Afrika en ons probleme met misdaad nie.

Mimi ·

Ek hoop hulle het haar foto oral opgesit, ook op omliggende dorpe…net ingeval iemand haar ontvoer het. N mens voel saam met die ouers en familie ! Baie sterkte, ons hoop sy word gou gevind. n Mens hoor van human trafficking, so alle leidrade moet opgevolg word.

Suidkaapenaar ·

Haar foto en inligting word regdeur die tuinroete gesirkuleer op sosiale media. Almal is op die uitkyk.

Wonder-net ·

Het sy nie dalk op die rotse staan en foto’s neem en is afgespoel nie? Dalk die rede hoekom sy en die kamera weg is en die res van haar besittings nie? Hoop dat ek verkeerd is en dat sy gevind word.

Suidkaapenaar ·

Haar kamera is in haar kamer gevind. Dit was wel springgety gedurende daardie tydperk en die seestrome was onvoorspelbaar en sterk. Ek persoonlik dink die see het haar geneem :(

Hansmy.teeiskoud ·

Bel die polisie…grapjasse! Wat sal die polisie doen? Uhm…niks!

RHG ·

Hansmy.teeiskoud, dis darem ‘n wilde bewering dat die polisie niks doen nie.
Natuurlik soek hulle.
Ons mense het darem baie sinies geword.
Dit was springgety en baie moontlik dat sy in die see beland het.

KASA ·

As sy lewend gevind word kan sy aamgekla word vir regsverydeling omdat sy die polisie op ‘n dwaalspoor gelei het en en probeer voorgee dat iets met haar gebeur het.Ek glo egter nie dit is hier die geval nie.Hoe kan sy net so van die aardbol af verdwyn.Gesoute speurders kan ons gerus hulle mening gee of mag hulle nie faaroor praat nie.

rollie ·

Die hotel se CCTV kamera het haar afgeneem waar sy ALLEEN die hotel verlaat op pad strand toe. Weet nie waar die storie vandaan kom dat sy saam met ‘n groep ander mense op die strand was nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.