Facebook stel ‘safety check’ in werking ná Parys-terreuraanvalle

Facebook se Safety Check-funksie

Facebook se ‘safety check’-funksie

Facebook het Saterdag sy ‘safety check’-funksie in werking gestel ná Vrydagaand se terreuraanvalle in Parys in Frankryk, waarin nagenoeg 128 mense dood en talle beseer is.

Die funksie is in werking gestel sodat mense in Parys hul Facebook-vriende kan laat weet dat hulle veilig is.

Die funksie vra verbruikers of hulle in die betrokke gebied [Parys] is, waarna die verbruiker dan kan merk of hy of sy veilig is, waarna al hul Facebook-vriende ʼn kennisgewing ontvang. Die funksie is glo ontwikkel ná die dodelike aardbewing in April vanjaar in Nepal.

Maroela Media het vroeër berig ʼn reeks selfmoordbom- en vuurwapenaanvalle regoor Parys het onder meer sokkerondersteuners by Frankryk se nasionale stadion, jongmense wat by ʼn konsert was en mense by verskeie kuierplekke en restaurante,  geteiken.

Francois Hollande, die Franse President, het ʼn noodtoestand afgekondig te midde van die aanvalle, wat as die ergste in Frankryk beskryf word sedert die Tweede Wêreldoorlog.  Hy het ook die land se grense gesluit en gesê die land gaan amptelik vir drie dae lank rou.

Die Islamitiese Staat (IS) het in ʼn aanlyn-verklaring verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar.

Hollande het die aanvalle as ʼn oorlogsdaad bestempel en ook die IS daarvoor blameer en belowe dat Frankryk sterk sal staan teen sy vyande.

Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê ondersoek word nog ingestel of enige Suid-Afrikaners in die aanvalle gesterf het. Geen sterftes is sover aangemeld nie.

Hy het mense wat naasbestaandes in Parys het en nog nie van hulle gehoor het nie, versoek om die departement by 012 351 1000 te bel. Die departement is gedurig in verbinding met die ambassade in Frankryk en sal inligting en navrae deurstuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.