Facebook ‘swendelaar’ by bank vasgetrek

Die verdagte word in hegtenis geneem. (Foto: Verskaf)

ʼn Man wat na bewering sedert 2014 mense op Facebook met ʼn slenter gevang en na raming uit miljoene rande bedrieg het, is Woensdag op heterdaad betrap terwyl hy die beweerde opbrengs van sy soveelste vals transaksie by ʼn bank in die Vrystaat onttrek het.

Daar word geraam dat die 26-jarige verdagte etlike miljoene rand op bedrieglike wyse bekom het sedert hy vyf jaar gelede met die slenter begin het.

Bloemfontein se bekende selfoon-speurder, Leon Rossouw, het die verdagte se bedrywighede in Desember verlede jaar begin ondersoek ná ʼn plasing op Facebook sy aandag getrek het. Ene Susan Arnold het mense gewaarsku teen iemand wat ʼn goedkoop voertuig adverteer en dan met die voornemende koper se deposito verdwyn.

Arnold het genoem dat sy uitgevind het dat die geld by ʼn winkelsentrum in Bloemfontein onttrek is, hoewel die adverteerder vir haar gesê het dat hy van Laingsburg is. Hy het selfs ʼn foto van ʼn ID-boek aan Arnold gestuur.

Rossouw sê die besonderhede van die slenter het vir hom alte veel geklink soos die modus operandi van ʼn persoon wat hy in 2011 ondersoek het en wat destyds aan bedrog skuldig bevind en ʼn boete van R100 000 opgelê is.

Nadat Rossouw op eie inisiatief met die nuwe ondersoek begin het, het hy dosyne mense opgespoor wat op soortgelyke wyse deur die swendelaar gevang is. Die persoon het daagliks ʼn goedkoop voertuig op verskillende Facebook-groepe adverteer en die bewoording van die advertensies was altyd min of meer dieselfde. Hy het ook verkies om vrouename soos Bianca, Tanya, Michelle en Marinda te gebruik. Vals foto’s van voertuie en vroue is in die advertensies gebruik en die telefoonnommers waar hy gekontak kon word, was vir voorafbetaalde simkaarte.

Rossouw het toe vir homself ʼn vals profiel geskep en by verskeie Facebook-groepe waar voertuie adverteer word, aangesluit. Hy sê hy moes dit so doen om te verhoed dat die verdagte die bewyse vernietig as hy dalk besef die private speurder wat hom voorheen gevang het, is weer op sy spoor.

“Deur die Facebook‑groepe dop te hou het ek gevind dat die verdagte byna elke dag nuwe foto’s van vroue gebruik om vals profiele te skep en dan daarmee aansoek doen om by die groepe aan te sluit,” sê Rossouw. “Wanneer ʼn groep hom aanvaar, plaas hy ʼn vals advertensie met ʼn foto van die voertuig wat kamstig te koop is en noem dat die verkoop dringend is en dat die papierwerk in orde is. Sodra iemand vir die slenter val, is die advertensie onmiddellik verwyder en die vals profiel gedeaktiveer.”

Een van die talle inskrywings op Facebook wat mense teen die slenter waarsku. (Skermskoot: Verskaf)

Vir die potensiële kopers wat bel, het hy gewoonlik vertel dat Bianca of Tanya of wie ook al se naam hy op daardie dag gebruik het, net gou uit is. Hy het ook relatief klein bedrae as ʼn deposito gevra en gebruik gemaak van die geld-oorplasingsdienste wat by groot winkelgroepe beskikbaar is. Die geld is onmiddellik na dit ontvang is by outomatiese tellermasjiene op verskeie dorpe in die Vrystaat onttrek.

Rossouw sê min mense het klagtes by die polisie gelê omdat die bedrae gewoonlik nie meer as R3 000 was nie.

Rossouw het ʼn maand gelede sy bewyse aan die Valke voorgelê en daar is toe begin om die verdagte dop te hou. Toe hulle Woensdag toeslaan, het hy met die selfoon wat vir die slenter gebruik is sowel as die geld wat hy pas onttrek het in sy hand gestaan.

Rossouw sê terwyl die Valke met die inhegtenisneming besig was, het ʼn persoon gebel wat ʼn voertuig wou koop. Op die verdagte selfoon was ook boodskappe wat hy aan mense gestuur het en waarin hy arrogant gesê het dat hy hulle pas met ʼn slenter gevang het.

Die verdagte verskyn vandag die hof in Bloemfontein.

Mense wat ingeloop is, kan Leon Rossouw kontak by 079 240 3491 of ʼn e-pos stuur aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Meraai ·

Klink bekend, dink hier in George/Knysna area is ook slagoffers

Hendrik ferreira ·

Joe ,ek kan dit glo hoveel mense stem DA n politiekie party wat diskriminerende wette teen minderhede goedkeur.

Diefie ·

Hene ek het nie geweet die regering gee om vir onse mense nie, As sy vonnis uitgespreek word, kan hy net vir versagtende omstandighede sê, hy gaan nou in die parlement dien. Dus versoek hy net ‘n “slap on the hand” – Dan kan hy sommer net daarna aansoek doen by Clear Your Criminal Record. Net om weer ‘n werkie te kry. Sê nie wat se soort werk nie.

Christo ·

Leon,skitterende werk !!
Ek is self so paar jaar gelede op Gumtree so gevang.
Hulle plaas n advertensie met foto’s en alles lyk goed ,veral die prys.
As jy bel praat hy vlot afrikaans of engels en sê daar is baie navraag oor die item en as jy ernstig is sal hy dit vir jou uithou…jy moet net n R1000 “cash send”na n rekening doen.
Hy gee tot die huis adres en tyd waar jy hom moet kry.
Die mense wat by die adres is het aan my vertel hoeveel mense elke dag daarheen kom net om uit te vind hulle is ook gevang.
Gelukkig draai die wiel soms en ek hoop hy sit lank.

Laura ·

Presies dieselfde met ons verlede maand gebeur. ‘n Karavaan in George wou koop. R3000 bt aan ene Charlene da Silva en moes karavasn gasn sien by n golflandgoed. Ons wag nou nog vir haar!!!!! Advertensie was op OLX.

Laura ·

Selfde met ons verlede maand gebeur op advertensie deur OLX. Ene Charlene da Silva n karavaan geadverteer. Ons het R3000 bt sodat ons eerste opsie daarop kon kry. Spesiaal George toe gery en wag nou nog vir haar!

Pampoen ·

Het laas Naweek R10 000 verloor deur n puppy wat Ons Wou koop. Ons het Polisie toe gegaan Maar vergeefs die web blad Bly op. Ek Weet nie hoe laat banke die Mense toe om Fake rekeninge oop te Maak nie.dieselfde Mense bly in werking hoop Ou Leon Sal bietjie hier in ook kyk.

Dina ·

Goeie speur werk. Wens daar was meer sulke speurders what al die skelms kan vastrek. Sluit die skelm toe sodat hy genees kan word van sy skelmheid. Borgtog gaan hom nie afskrik nie.

pieter ·

Briljante werk laat dit n les wees vir andere da buite ook –

ES ·

Ek was ook op ‘n soortgelyke manier bedrieg, so 9 jaar gelede, toe hierdie tipe ding nog relatief nuut was… ek was uit R 6 000 bedrieg wat die begin kapitaal van my eie klein besigheid sou wees. Ek het dit ook beskou as “college of knowledge” geld soos Anoniem hier bo genoem het.

Nou werk ek maar voltyds vir ‘n maatskappy en ek koop niks tensy ek dit met my eie ogies gesien het nie. Daar is te veel skelms daar buite.

Hanna Hoekom ·

Daar is n ou gesegde van “as n ding te goed is om waar te wees…” In vandag se dae kan jy NIEMAND meer vertrou nie! Mense is al hoe meer gewetenloos en blykbaar erg glibberig.

erika ·

Baie geluk met jou goeie werk!!!
“toe vangs slim sy baas!” mag hy vir ewig sit!

Robert ·

@starshiptrooper: nie almal is ewe skerp nie, daar is mense wat sê hulle sal nooit so gevang word nie en dan een dag word hulle onverhoeds betrap en in die slaggat. die belangrikste is dat mense daaruit sal leer en ander waarsku om versigtig te wees.

grant ·

Johanna, jy’s verkeerd. Dit is nie te sleg om te werk nie, die is nogal moeilik om werk te kry of sal ek se nie al die mense is met n goue lepel groot gemaak word nie!!

Nel ·

Ongelukkig is dit so dat ‘n man se woord nie meer sy woord is nie. Die profeet Miga het destyds al gesê, “Maak op geen vriend staat nie” (Miga 7:5). Maar ek glo en vertrou daar’s nog baie eerlike mense daar buite.

JSO ·

@Madeleine – Andre Stander was ‘n BANK ROWER. Hoe verbind jy dit nou met ‘n facebook scamster? Daar was nog nie eens facebook in Andre se tyd nie.

marius ·

Bankroof is outyds, hierdie is die moderne weergawe van bankroof…

GClark ·

Dis wat ek ook gedink het, totdat hulle my gevang het. Die skelms teer op desperate mense wat nie die items op die tradisionele manier kan bekom nie. Daar is wel ‘legit’ ondernemings, maar hulle is so yl gesaai, jy moet 100% seker maak van alles

Enna Burger ·

As sekere persone by Bank buite geld ont trek het hulle baie 6 + Bank kaarte, ‘n staan lank en trek geld en en het vorentoe geloop en gesien dat hul baie kaarte gebruik. Groete

Maria ·

My man is met daardie sleter seker deur hierdie selfde ou gevang… Ook die papiere van die Nissan en n ID vir hom gestuur… Voor ek my man kon keer toe betaal hy ook n bedrag oor met FNB se money sent… Ek dink ek sit nou nog met die bewyse… My man is nou baie slimmer maar as hy my vroeër gesê het sou ek hom gekeer het maar hy het my eers gesê minute na die betaaling. Hoop hul sluit jou lewens lank toe

LSwart ·

Ek het ‘n screenshot op my foon waar hy die naam Anja vd Walt gebruik het… Gelukkig het my boetie gese hy soek eerder n kar as ‘n bakkie… Scary!!!

Tina du Toit ·

Puik werk Rossouw. Mag dit `n voorbeeld stel vir al die skelms daar buite. Pssst, Een of ander tyd gaan Rossouw jou kry.

Swanna ·

Leon ek dink jy moet op die web blad OLX ook ‘n bietjie gaan kyk daar is ook sulke persone en ‘n klomp van hulle wat daar dieselfde doen. Ek het amper ook so in die gemors beland toe ek die advertensie op OLX sien en begin bel en met die persoon praat. Het ook ‘n deposito gesoek om die voertuig vir my te hou want die voertuig gaan die volgende dag op ‘n veiling verkoop word. Gelukkig ek kop gehou en agter gekom hier is iets nie reg nie. Daar is ‘n motor hawe in Roodepoort wat ook deel is van hierdie sindikaat. Bêre maar daardie man hy verdien dit.

Spokie ·

Ek en my man is so gevang met R50 000. Ons het die ou gekry op Facebook en sy details en alles van hom. Het dit oor gegee aan die polisie in ons dorp. Hulle woorde aan ons… We will do our own investigation!! Drie jaar later en ons wag nog steeds vir iemand om terug te Kom na ons toe

Cherokee ·

Hulle investigate nog, Spokie. Waarom het julle dit nie aan ‘n prokureur gegee om op te volg nie? Ek het self R55 000 verloor en ek het die naam en die adres van wie weg is met my geld. Dit is die aandelemark. Dom belegging :-) Neem jul saak op met ‘n prokureur, òf begin deur vas te stel onder wie se beheer die polisiestasie is waar julle dit rapporteer het en neem dit van daar. Hopelik het julle steeds ‘n saaknommer.

toy ·

Sy woord is nie sy eer nie. Hy is ‘n regte micky mouse lyk my.

anton ·

Wraggies mense? wie betaal nog n deposito op iets wat jy nie met jou eie oe gesien het nie?
Partykeer het ek maar min simpatie met mense wat wil sukkel.

Cherokee ·

Soos die mense in hierdie forum wat onophoudelik van naam verander.

marius ·

Hy is nou 26, in 2011 was hy die eerste keer gevang, dis nou 2019. Dus het hy begin met die skelmspul toe hy net 18 was…. ongelooflik!

Mathys du Preez ·

Nou in Julie 2019 eers!? Ek is ‘n dekade gelede, in 2009 geswendel met ‘n deposito om ‘n huis te huur in Umhlanga Rocks, die huis was nooit beskikbaar nie! Die dame het my nog gedruk om ‘n maand vooruit ook te betaal, die polisie se, waar het die misdaad gebeur, ek se op die internet, nee, se die oorgewig manne, buite hulle jurisdiksie. Ek hoop hierdie 26 jarige seuntjie sit vir ‘n baie lang tyd agter tralies en vind sy sielmaat, sodat hy verandwoordelik kan neem vir sy lewe.

peet ·

My les was deur OLX en die 14k is in sy Capitec rek inbetaal. Die Polisie ondersoek duur seker voort na 3 jaar. Die vraag is nou watse nut het Rica en Fica as Polisie nie dit kan gebruik om die persoon met die bank rek en selfoon no kan opspoor.

Francois ·

Die rika storie van fone is n’ klug. Jy kan op elke hoek by die buitelandse winkels wat deur indiërs besit word simkaarte koop vir R10 wat klaar gerika is.

Martin ·

Wonderlike werk. Welgedaan! Ek vertrou die howe se manteldraers sal nie al hierdié werk nie ongedaan maak nie. Die persoon moet lank toegesluit word, want sulke tipes sal nooit hul streke los nie.

Groen Ertjie ·

Geen simpatie met mense wat geld uitdeel sonder om die nodige maatreels te tref nie – goue reel : cash on delivery – ten alle tye !

Cherokee ·

Ertjie, jou antwoord is groen. Ek het ‘n Wacom Intuos Pro pen tablet bestel vanaf oorsee nog voor dit in SA beskikbaar was. Cash on delivery sê jy? Jy praat sonder om te dink.

Johan ·

Amper so geroof in Johannesburg gee my die adres toe is dit n Lee erf gelukig geen geld inbetaal nie sou my daar kom kry toe maak ek DAT ek weg kom so word die mense geroof parkeer jou vas en vat alles wat jy by jou het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.