‘Facebook-verkragter’ in hospitaal vasgetrek

(Foto: Unsplash)

Die polisie het Saterdag ʼn beweerde reeksverkragter in Tzaneen vasgetrek nadat hy weens ʼn skietwond in die hospitaal opgeneem is. Die man word al lank deur die polisie in Limpopo gesoek en wetstoepassers meen hy is verantwoordelik vir sowat 14 rooftogte en verkragtings wat tussen Julie 2020 en Augustus vanjaar in Tzaneen plaasgevind het.

Volgens die polisie het die verdagte (34) glo sy slagoffers op Facebook gelok deur te adverteer dat hy ʼn huishulp of veiligheidsdienste benodig. “Van die desperate slagoffers het van so ver as KwaZulu-Natal en Lesotho gereis om werk te kry. Hy sou hulle by die taxistaanplek of bushalte ontmoet en dan ʼn verskoning bedink om deur die bosse met hulle na sy huis te loop,” vertel brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder van Limpopo.

“Hy sou hulle dan verkrag en van hul besittings beroof en op die vlug slaan.”

Die polisie het drie maande lank na die beweerde verkragter gesoek en hom eindelik in die Letaba-hospitaal opgespoor waar hy verlede week opgeneem is om ʼn skietwond te laat behandel. Hy het die wond glo naby ʼn begraafplaas op Burgersfort opgedoen.

Mojapelo sê die verdagte sal in die landdroshof op Tzaneen verskyn sodra hy volkome herstel het. Die ondersoek duur intussen voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JM ·

Vuilgoed! Sy vieslike dade het hom ingehaal. Sluit hom permanent toe sonder die moontlikheid van parool.

marius ·

Laat diegene wat hy verwoes het vir hom in die hospitaal gaan kuier .

Tanniepetoors ·

So ‘n verpesting! Die arme mense gaan groot uitgawes aan omdat hy vir hul werk belowe en hy verkrag hulle! Watter siek tweebeen wese.

Sarel ·

Wie het hom geskiet.dn word die persoon.sois gewoonlik aangehou.
Moet nie te verl van ons Restelsel verwag nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.