‘Facebook-verkragter’ sit baie lank

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die reeksverkragter Thokozani Jiyane (23) is in die hooggeregshof in Johannesburg tot agt keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van 10 vroue.

Jiyane, wat ook as die Facebook-verkragter bekend staan, is tot ʼn verdere 223 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan 17 aanklagte van verkragting, 10 aanklagte van roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook drie aanklagte van bedrog.

Jiyane se skrikbewind het in Reigerpark aan die Oos-Rand begin en hy het van Desember 2019 af as die Facebook-verkragter bekend gestaan. Hy het sy slagoffers op Facebook gelok deur voor te gee dat hy in die filmbedryf is en ʼn klerereeks besit. Hy het werk aan niksvermoedende vroue gebied en sodra hulle hiervoor geval het, het hy vir hulle boodskappe op Facebook en WhatsApp gestuur en foto’s van hulle versoek.

Volgens kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het Jiyane daarna ʼn ontmoeting met die vroue gereël en versoek dat hulle met ʼn taxi na die Angelo- informele nedersetting in Boksburg reis. Hy sou hulle dan sover kry om na ʼn afgeleë en beboste gebied te stap waar hy hulle gewurg en verkrag het. Jiyane het ook sy slagoffers beroof. Jiyane se slagoffers het van onder meer Middelburg in Mpumalanga, Hammanskraal, KwaMhlanga, Soweto, Vosloorus en Westonaria gekom.

Jiyane is in Maart 2020 in die Angelo- informele nedersetting in hegtenis geneem. Hy is ook in Oktober 2019 in Delmas, Mpumalanga, in hegtenis geneem, maar die saak is nooit op die hofrol geplaas nie.

Ondanks struikelblokke met forensiese bewyse is die Facebook-gesprekke tussen Jiyane en sy slagoffers suksesvol ingespan om sy skuld te bewys. Jiyane is ook positief deur ses van sy slagoffers tydens ʼn uitkenningsparade geïdentifiseer.

Genl.maj. Tommy Mthombeni, waarnemende polisiekommissaris van Gauteng, het die ondersoekspan geloof en die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank John

Hoop nie hulle laat hom ooit toe om perool of kans kry om uit te kom nie.

isabelle

hy moet sit vir die res van sy lewe maar sy pap en water pampoen geniet Hy behoort nie in die samelewing nie …. sy aksies n reaksie =SIT!

Blomme

Vir ń slag goeie nuus uit ń slegte gebeurtenis. As meer van hulle sulke straf opgelê word sal hul seker dink voor hul aan hul siek gedagtes oorgee.

Moeggeploeg

Net 3 jaar dan is hy weer op straat.