Faf lê leisels as toets- en T20-kaptein neer

Faf du Plessis. Foto: Michael Sherman (ANA)

Faf du Plessis het aangekondig dat hy met onmiddellike inwerkingtreding die leisels as toets- en T20-kaptein neerlê.

Volgens Krieket Suid-Afrika het die 35-jarige besluit op ʼn stap terug van kapteinskap ten einde die opkoms van die volgende generasie leiers in die span, onder die nuwe stuur van Quinton de Kock, te help fasiliteer.

Du Plessis wil nou daarop konsentreer om as kolwer en senior speler tot die span by te dra en leiding en raad te verskaf aan die nuwe leierskapgroep as deel van hul opvolgbeplanning.

“Die laaste paar weke van rus het my baie perspektief gegee oor die groot voorreg en eer wat ek gehad het om my land te verteenwoordig en te lei in die drie formate van hierdie wonderlike spel. Dit was ‘n lonende, soms moeilike en ander kere ‘n eensame weg, maar ek sal die ervaring vir niks verruil nie, want dit het my die man gemaak waarop ek vandag trots is.

“Toe ek die leierskap oorgeneem het, het ek dit gedoen met toewyding om te lei, te presteer en die belangrikste van alles om te dien. Terwyl die span in ʼn nuwe rigting beweeg met nuwe leiers en ʼn groep jong spelers, voel ek dat dit in die beste belang van Suid-Afrikaanse krieket sal wees om van die kapteinskap afstand te doen.

“Dit was een van die moeilikste besluite wat ek nog moes neem, maar ek is volstoom daartoe verbind om Quinton, Mark [Boucher] en my spanmaats te ondersteun, terwyl ons voortgaan om weer as groep saam te bou en te belyn.”

Volgens Du Plessis was die afgelope seisoen van sy kapteinskap die moeilikste nog aangesien daar baie kwessies van die veld af was wat sy energie geverg het.

“Ek het probeer om die span met waardigheid en egtheid te lei tydens opwindende hoogtepunte en verwoestende laagtepunte. Ek het alles gegee tydens my termyn.”

Faf du Plessis. (Foto: Krieket SA via ANA)

Du Plessis het gesê Suid-Afrikaanse krieket het nou ʼn nuwe era betree.

“Nuwe leierskap, nuwe gesigte, nuwe uitdagings en nuwe strategieë. Ek bly daartoe verbind om as speler in al drie formate van die spel te speel en sal my kennis en tyd aanbied vir die nuwe leiers van die span.”

Du Plessis het einde 2016 by AB de Villiers as kaptein oorgeneem. Sy aankondiging volg ná 2019 se nagmerrie-jaar vir krieket in Suid-Afrika.

Jacques Faul, waarnemende hoof van KSA, het Du Plessis bedank vir sy bydrae as kaptein.

“Faf se rekord as speler en kaptein is vanselfsprekend,” het Faul gesê. “Hy is die enigste Suid-Afrikaanse kaptein wat tuis- en wegreekse teen Australië in sowel toets- en eendagwedstryde gewen het.”

Volgens Faul is Du Plessis se besluit net nog ʼn voorbeeld van hoe hy die span altyd eerste gestel het.

“Na die uittrede van Vernon Philander, is hy en Dale Steyn die laaste oorlewendes van die goue geslag wat die Proteas tot boaan die toetsranglys geneem het, en hy speel steeds ‘n belangrike rol om die gaping tussen een generasie en die volgende te oorbrug.

“Ek is seker dat hy in die laaste hoofstuk van sy uitstaande loopbaan baie waarde vir die Proteas op die veld sowel as in die kleedkamer sal toevoeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Jammer maar dis bietjie laat Faf. Quinton is by verre ‘n beter kaptein en hy word net beter as speler met die kapteinskap. Die selfde kan ongelukkig nie van jou gesê word nie.

Namib ·

Dankie tog, uiteindelik!!!!!!!!!! Daar is net een fout, hy moet HEELTEMAL ophou krieket speel.

Therese ·

Welgedaan, Faf du Plessis!
Die Aussies het nog altyd gróót respek vir daardie kolf.
In Australië was sy paaltjie meestal onbekombaar of peperduur, en vele toetslande sal sy tweede asem vrees onder die nuwe kaptein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.