FAK bring hulde aan “een van SA se grootste staatsmanne”

Oudpres. Nelson Mandela

Oudpres. Nelson Mandela

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van oud-President Mandela.

“Die FAK betuig ons innige meegevoel met die Mandela-familie,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, gesê. “Die FAK huldig oud-president Mandela as een van die grootste Suid-Afrikaanse staatsmanne. Hy het bo die grense van partypolitiek uitgestyg en Suid-Afrikaners oor alle grense heen saamgebind. Vir baie Suid-Afrikaners was hy ʼn simbool van die potensiaal wat in die land se toekoms opgesluit lê. Waarskynlik sal hy oor tyd gehuldig word as een van die grootste Suid-Afrikaners van alle tye.”

Volgens Langner huldig die FAK oud-president Mandela ook vir sy gesindheid teenoor Afrikaanse taal- en kultuur. “Hy het nie net in sy eerste parlementêre toespraak Die Kind van een van die grootste Afrikaanse digters, Ingrid Jonker, gelees nie, maar ook toegesien dat ʼn Afrikaanse strofe deel is van Suid-Afrika se Nasionale Lied.”

“Die FAK huldig oud-president Mandela ook vir die wyse waarop hy ʼn versoenende hand uitgesteek het na Afrikaners. Hy was ʼn akkommoderende leier wat oop was vir gesprek,” het Langner afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.