FAK: “Die Stem moet regmatige plek hê by kultuurfeeste”

Ondertekening van Stem2Die FAK sê in ‘n verklaring “Die Stem” as kultuurlied is steeds ’n kosbare kulturele erfenis vir baie Afrikaners.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê kultuurliedere behoort ’n regmatige plek te hê by kultuurfeeste.

Langner verduidelik in die verklaring CJ Langenhoven het in 1921 “Die Stem van Suid-Afrika” in sy bundel Eerste Skoffies op die pad van Suid-Afrika gepubliseer. “Gedurende 1931 het die FAK ’n kompetisie geloods om ’n geskikte volkslied vir Suid-Afrika te vind,” sê hy. “Uit die ingestuurde gedigte het die keuringskomitee eenparig Langenhoven se gedig “Die Stem” aanbeveel.”

Langenhoven het ML de Villiers versoek om die gedig te toonset. De Villiers beskryf die toonsetting soos volg: “Ek onthou nog goed dat dit een van daardie goddelike dae was waarvoor die Boland bekend is. Daar sit ek in my studeerkamer in Simonstad. Ek kyk uit oor die blou van onse hemel, oor die diepte van die see – en aan die oorkant van Valsbaai sien ek die pragtige en magtige gebergtes, waar die kranse antwoord gee … Voor my sien ek wat Langenhoven aangevoel het. Ja ineens sien ek dit in een beeld. Die note van my musiek moes opgaan na die blou van onse hemel, en dit moes terug en afkom na die diepte van ons see … en dan antwoord die berge.”

In 1937 het die FAK-keurkomitee eenparig besluit dat ML de Villiers se toonsetting die beste uit 40 inskrywings was, aldus Langner.

DF Malan het die plek van “Die Stem” as volg verduidelik: “Gelukkig het Suid-Afrika ’n Langenhoven te voorskyn gebring en kan die Suid-Afrikaanse volk in hul gemeenskaplike vaderlandsliefde hul eenheid vind ten spyte van hul tweeheid. Dit kan so gebeur: Daar is ’n stem … Dit is geen stem van hierdie of daardie bepaalde persoon of groep nie, en komende uit hierdie of daardie bepaalde aard nie. Dit is die Stem van Suid-Afrika!

Na volgehoue vertoë is “Die Stem” op 2 Mei 1957 tot enigste amptelike volkslied verklaar. Die kopiereg van “Die Stem” het aan die FAK behoort. In 1957 is dit oorgedra aan die Suid-Afrikaanse regering.

Langner skryf verder in die verklaring:
• “Die Stem” staan in die teken van Afrikaans wat na die Anglo-Boereoorlog gegroei het van huis, tuin en kombuistaal tot ’n hoëfunksietaal waarin gedig en gesing kan word.
• Lank voor apartheid het “Die Stem” Suid-Afrikaners oor taalgroepe heen verenig as Suid-Afrikaanse burgers wat fokus op Suid-Afrika eerste.
• Na 1994 het “Die Stem”, waarvan ’n paar reëls in die nuwe Nasionale Lied opgeneem is, weer ’n rol gespeel om Suid-Afrikaners te verenig. Die Nasionale Lied is ook opgeneem in die FAK se 2012-Sangbundel.
• Na 1994 het “Die Stem” se gewildheid nie afgeneem nie. Gedurende 2013 was “Die Stem” ’n kategoriewenner van Maroela Media/KykNET se Grootste Afrikaanse liedjie-kompetisie.
• Soos wat Afrikaners die Nasionale Lied voluit sing, is “Die Stem” as kultuurlied steeds ’n kosbare kulturele erfenis vir baie Afrikaners. “Die Stem” behoort erken en gerespekteer te word soos wat die Ou Transvaalse en Vrystaatse Volksliedere erken en respekteer word. Die sing van die ou Volksliedere beteken tog geensins ’n heimwee na ’n Suid-Afrika voor 1900 nie.
• Kultuurliedere behoort ’n regmatige plek te hê by kultuurfeeste.
• Die óf … óf standpunt soos verwoord in Beeld van 8/7/2014 is ’n fout. Kulturele onsensitiwiteit teenoor kulturele simbole sal Suid-Afrikaners verder verdeel en vervreem.
• Nasies word gebou deur respek en erkenning van beide nasionale en kulturele simbole.

Verklaring deur die FAK.

Lees ook:
Steve sê oor ‘Die Stem’
Nuuskommentaar: Om Die Stem te sing
Herrie bars los ná Steve “Die Stem” sing by Innibosfees

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ben Fourie ·

Dis n mooi lied. Dit word in ons taal gesing. Is deel van Suid Afrika nog voor ons moes luiter na gewelds liedere wat dreig om die boere dood te maak. Sodra jy metdreigemente kom kan jy seker wees dat die afrikanees weer sal se Ons Vir Jou Suid Afrika

HEVW ·

Dit is maar eie aan kommunisme. Oral waar hul oorgeneem het is plekname verander, en die fundamentele en ankers van n volk word vernietig. Die volgende geslag ontaard dan aan n edentiteitslose willose grys massa. So beeld dit raak by die dag duideliker waarmee jy besig is.
Jy dien om so spoedig as moontlik met minagting verwerp te word.

Ronel Dunn ·

Eintlik behoort daar geen herrie te wees nie. Die Stem is immers nie verbied nie en as mens na die woorde luister of lees, is dit ‘n roerende gedig oor Vaderlandsliefde. Wat my betref kan elkeen in die land daarmee vereenselwig en is dit nie nodig gewees om dit as lelieblank-alleen te verklaar nie. Selfs die Engelse woorde is baie besonders en met patos gevul.

Simeon Steynberg ·

Ek stem saam …. Die Stem van CJ Langenhoven het ‘n defnitiewe plek in ons kultuur. Ons kultuur word bedoel die algemene Suid-Afrikaner kultuur met geen ras-grense nie. Die Stem is ‘n gedig van Vaderlandliefde wat getoonset is met geen haatspraak nie. Dit moet gesing word, soos enige ander lied. Wonderlik dat in Namibie word die Sudwest-lied uit volle bors gesing deur almal in die land … sonder enige bybedoeling en negatiewe reaksie van watter volkgroep ookal. Waarom is ons verskillend in SA? Is ons nie besig om groter skade (en rasse haat) aan te vuur nie deur agter elke bos negatiewe gevolgtrekkings te maak nie? Die spreekwoord sê dat “waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor”. Is die negatiewe instellings van sommige mense in die land so oorheersend in hul lewe dat hul uit onskuldige getoonsette gedig van liefde vir die vaderland, Suid-Afrika, net die verkeerde uitkrap waar geen verkeerdheid is nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.