Familie bekommerd ná Ier in SA wegraak

Stanley Currie. Foto: Facebook

ʼn Man van Noord-Ierland wat ʼn week gelede na Suid-Afrika gekom het om ʼn vrou te ontmoet met wie hy blykbaar twee jaar lank op die internet gesels het, word reeds langer as ʼn week vermis.

Stanley Currie (66) van die dorp Cookstown het op Sondag 30 Desember ʼn vlug van Dublin, Ierland, na Johannesburg met ʼn eenrigtingkaartjie gehaal om die persoon te ontmoet, skryf sy broer Richard Currie in ʼn Facebook-inskrywing. Volgens hom ly sy broer aan depressie en het ook hartprobleme.

“Hy het nie verblyf in Suid-Afrika bespreek nie,” skryf Richard, “en het ʼn groot bedrag kontant by hom gehad.”

Richard en die res van Stanley se familie probeer al die afgelope week om hom te bel, maar sy foon is sedert Sondagaand 30 Desember afgeskakel.

Ons begin nou bekommerd raak oor hom.

“Geeneen van die familie het enige idee wie die vrou is wat hy sou ontmoet nie en natuurlik is ons bekommerd dat dit ʼn slenter kan wees,” skryf Richard. “Ons begin nou bekommerd raak oor hom omdat … ons geen kontak met hom het nie.”

Richard skryf hulle het die polisie op Stanley se tuisdorp in Noord-Ierland om hulp genader, “maar hulle stel nie belang nie, wat ons nie verbaas nie”.

Hy sê Stanley se familie wil net weet dat hy veilig is en vra dat hy sy mense sal laat weet dat dit goed gaan met hom.

Stanley se seun, Mark Currie, het ook sy kommer op Facebook uitgespreek en skryf: “Dis nie in sy geaardheid om nie van hom te laat hoor nie.”

Steven King, van die organisasie SA Community Crime Watch, sê Stanley se familie is nie 100% seker van sy reisplanne nie. “ʼn Buurman het blykbaar sy eerste vlug bespreek, maar hy het dit glo verpas. Hulle weet nie wie die tweede vlug, blykbaar vir Sondag 30 Desember, bespreek het nie.”

King sê volgens voorlopige inligting lyk dit asof Stanley wel op OR Tambo-lughawe aangekom het, maar hulle sal dit eers later Maandag met die polisie en emigrasiebeamptes op die lughawe se hulp kan bevestig. Daarna is nie weer van hom gehoor nie.

Hy was nie haastig om terug Noord-Ierland toe te keer nie.

Mark het aan King gesê sy pa het waarskynlik nie buitelandse swerwing op sy selfoon nie en het waarskynlik ʼn plaaslike SIM gekoop, maar nog nie daarvandaan probeer kontak maak nie.

“Dat hy ʼn eenrigtingkaartjie gehad het, sê vir ons hy was nie haastig om terug (na Noord-Ierland) te keer nie,” meen King.

Stanley, wat enkellopend is, is bles, 1,72 m lank, weeg 76 kg en het sigbare tatoeëermerke aan sy voorarms met die woorde “Mark”, “Kelly-Ann” en “Ann”.

Die polisie in Suid-Afrika weet van die voorval, maar ʼn saak is nog nie geopen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ander Annie ·

Klink vir my na die “419 scam”. Hoop die man word ongedeerd gevind.

Priscilla ·

Kan iemand nie na sy e-pos geakiedenis kyk nie? As hulle weet hy gesels al vir twee jaar met iemand , kan hulle sekerlik meer uitvind???

bosluis ·

Genugtig, mnr Currie se eie aksies , min inligting aan naasbestaandes , gesondheid gekombineer met internet scams en SA se misdaadsyfer is omtrent n resep vir n hartseer verhaal! Sterkte aan sy familie.

Abe ·

AP. ,
Wanneer gaan mense leer dat as jy op n sosiale netwerk vriendskap reageer dan soek jy vir moeilikheid.

Oom Doug ·

So bly die kommentaare is terug, Ek geniet dit rerig.
Ek is seker die man sal gevind word, dit lyk asof hy nie so baie vertroue in my familie het nie.

JoeV ·

By nou behoort die hele land die fotos wat by die lughawe geneem is van die beeldmateriaal met sy aankoms te gesien het, waar is dit? Orals kameras daar so dit behoort nie ‘n probleem te wees om te sien wie hom ontmoet het by die lughawe nie, en as hy motor gehuur het, al die verhuurders het opsporings toestelle in… vat nou te lank om iewers te kom met die.

Magaretha van heerden ·

Mense besef nie die gevare van Afrika nie. Alhoewel dit seker oral kan gebeur. Hoop waarlik die UK sal ingryp en ondersoek. Ook dat hy ongedeerd is.
Waar is die sg wonderlike MI6 van die UK ? Dan so goed dat die James Bond flieks daar is. Nes die FBI lyk my hulle is gladnie so goed nie en hou hulle net besig met politiek.

Katerina ·

Good luck..maar ek sal nie asem ophou dat hy lewend gevind word nie.

PJC ·

Dit bly verstommend dat sommige mense hulle so maklik om die bos laat lei.

Magda ·

Moet nie SA besoek nie – Niemand is hier veilig nie – wanneer gaan die mense oorsee dit besef – EEN GROOT KORRUPTE MEES KRIMINELE LAND IN DIE WERELD – BLY WEG

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.