Familie bevestig Shiraaz is tuis

Shiraaz Mohamed (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse fotojoernalis Shiraaz Mohamed se eksvrou het Vrydag sy tuiskoms bevestig.

“Shiraaz Mohamed is terug in die land. Weens die omstandighede wat hy onlangs moes verduur, versoek hy en die familie dat ons ruimte gegun word. Dankie vir die gebede en ondersteuning,” het Shaaziya Brijlal in ’n kort verklaring gesê.

eNCA berig Mohamed het vanoggend omstreeks 11:00 in Suid-Afrika geland.

Die nuuskanaal haal ’n verklaring deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) aan, waarin die departement sê hy bied tans die nodige ondersteuning aan Mohamed en sy familie. Dit sluit hulp met die nodige dokumente in. Maroela Media kon egter nog nie die departement bereik om dit te bevestig nie.

Shiraaz in aanhouding. (Video verskaf via ANA)

Maroela Media het vroeër berig ’n bron in die veiligheidsgemeenskap in Ankara het aan Reuters gesê Mohamed het Donderdag danksy die hulp van die Turkse intelligensie-agentskap huiswaarts gekeer.

Dít volg sowat drie jaar nadat Mohamed na bewering op 10 Januarie 2017 in Darkoesj in Sirië ontvoer is. Hy is aanvanklik daarheen om die lyding van gewone Siriese burgers weens die oorlog te dokumenteer.

Volgens die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers het Mohamed verlede maand uit aanhouding ontsnap. Hy is oor die Turkse grens en is daar aan dié land se intelligensieowerhede oorhandig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.